W.A. de Klerk sou vanjaar 100 jaar oud gewees het. Die hoorbeeld is 'n viering van die veelkantige vakman se werk. Dis 'n herontdekking van 'n woordsmid by uitstek. De Klerk was radioman, advokaat en skrywer. Toe die skryfgogga hom beetpak, het hy besef advokaatwees en skrywerskap is wedersyds uitsluitend en hy het hom op sy plaas Saffier naby die Paarl gaan vestig waar hy 'n vrugtekweker was. De Klerk was 'n veelsydige skrywer en het jeugverhale, reisverhale, essays, romans en dramas geskryf.