gedig vir pa

(vir Eustace Milborrow)

pa is in livingstone hospitaal opgeneem

afgetakel, afgeknou en uitgeteer

net ‘n versteende skadu van sy glorie

ons is reisigers saamgepak in hysbakke

sommige draai links na die vrouesaal

en ons regs na pa in die manssaal

pa word begroet deur geliefdes met kosblikke

en bemoedig deur besoekers met bybels

maar pa wil niks hoor nie

hy wil net huis toe kom

maar daar's so baie vrae wat pla –

hoe ver het dit versprei

wanneer gaan die dokter kom

wanneer gaan die behandeling begin

en toe…

pynlik en presies skandeer die masjien

die diagnose is koud en naak soos been

en skadu’s strek van hoek tot kant

en doodspraatjies hang hamerswaar

pa is die volgende dag huis toe –

vreemd dat hy ons juis verlaat

toe ‘n sinkende son die aarde

genadiglik met ‘n doodskleur laat

op pad huis toe hoor ek pa se stem

en vra hoe ry ons dan nou sonder hom

ek draai om maar sien niemand en niks

en besef pa het sy stem agtergelaat

met sy laaste huis toe ry

na ‘n ander land

© Selwyn Milborrow, 2021


This episode is sponsored by · Anchor: The easiest way to make a podcast. https://anchor.fm/app


Send in a voice message: https://anchor.fm/selwyn-milborrow6/message