korona, korona

die wêreld skarrel in ‘n roukleed

want man, vrou en kind is vasgevang

in ‘n viriele greep

onsigbaar, ongenaakbaar, onaantasbaar

sluip dit verby elke dak, dorp, straat

en oor elke stad, kontinent en land

wanneer gaan die mensdom ooit besin

of moet ‘n tsunami van histerie

oor ‘n dodelike pandemie

ons tot besinning dwing?

©️ 2021 Selwyn W Milborrow

* Koronavirusse is 'n groot familie van virusse wat siektes by diere en mense kan veroorsaak. So ’n infeksiesiekte word ’n soönose genoem, wat beteken dit word van diere na mense oorgedra. Die nuutste koronavirus kan egter ook tussen mense versprei en veroorsaak die koronavirussiekte Covid-19. In Desember 2019, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) bewus geword van ’n uitbreking van “longontsteking” in Wuhan, China. Die WGO het dit COVID-19 of koronavirus genoem. Dit het in 2020 oornag die hele wêreld se grootste gemeenskaplike vyand geword. Miljoene mense het die virus opgedoen en teen middel 2020 was daar nog geen entstof beskikbaar nie.