Die oud-rektor van die US, prof. Andreas van Wyk, en ander akademici gesels vir oulaas in dié gewilde reeks. Die historikus Albert Grundlingh gesels met Andreas van Wyk oor ’n halfeeu van Matie-geskiedenis – van die verskyning van Stellenbosch 1866 – 1966: Honderd jaar hoër onderwys tot eergister.
Die oud-rektor van die US, prof. Andreas van Wyk, en ander akademici gesels vir oulaas in dié gewilde reeks. Willie Breytenbach, afgetrede politieke wetenskaplike aan die US, deel sy wysheid oor verspeelde kanse en nuwe geleenthede vir Suid-Afrika.
Moontlik gemaak deur MediClinic en Edwin Hertzog, voorsitter van MediClinic. Met: Anton van Niekerk, direkteur van die US se Sentrum vir Toegepaste Etiek, en Susan Vosloo, hartchirurg. Soos by die oorplanting van enige orgaan gaan ’n hartoorplanting gepaard met verskeie etiese vraagstukke. Die omstandighede van die skenker én die ontvanger is belangrik asook dinge soos nuwe wetenskaplike ontwikkelings, kultuur en geloof. Verdien dit ook etiese oorweging? Een van Suid-Afrika se voorste hartchirurge werp lig op van die kwessies rakende dié ingrypende operasie.
Met: Gert Grobler, Leon Schreiber en Sanusha Naidu. Is die wêreld weer besig om, soos voor die Tweede Wêreldoorlog, ’n onveilige plek te word? Kenners reken die kanse op internasionale oorlog word toenemend groter. Wat kan die vonk by die kruitvat wees? En hoe moet SuidAfrika hom in hierdie arena posisioneer?
100 jaar se kennis en impak uit Stellenbosch. Die landboufakulteit was onder die eerste departemente wat geskep is toe die Universiteit Stellenbosch in 1918 tot stand gekom het. Sedertdien het die universiteit, landbounavorsingsgenote in die distrik asook die boere in die omgewing daartoe bygedra dat Stellenbosch oor die afgelope 100 jaar tot een van die spilpunte van die Suid-Afrikaanse landbou ontwikkel het. Kom luister wat akademici, bedryfsleiers, voorste boere en jukskeibrekers (mavericks) oor landbou van 1918 tot 2018 én daarna te sê het.
Dalk maak die woord ‘beleggings’ jou bang of dalk wil jy ’n gesoute belegger word en nie net iemand met ’n effektetrustfonds of twee nie. Dan is dié sessie vir jou. Van regstreeks in eiendom belê tot regstreeks op die aandelemark speel, ons gesels in meer diepte oor beleggings.
Met: Imtiaz Sooliman. Die joernalis Suna Venter, wat in 2017 op 32-jarige ouderdom aan ‘gebroke hart’-sindroom (streskardiomiopatie) oorlede is, was een van ’n nuwe geslag kampvegters vir mediavryheid. As een van die sogenoemde SABC 8 het sy stelling ingeneem teen pogings om die redaksionele onafhanklikheid van die SABC se nuusprogramme in te perk. Sy en die ander sewe joernaliste het saam die Nat Nakasa-prys vir mediavryheid ontvang. Maar Suna moes die hoogste prys betaal ná ’n uitgerekte proses van volgehoue intimidasie en teistering. Kom luister na Imtiaz Sooliman, stigter van die organisasie Gift of the Givers, se gedagtes oor menswees en medemenslikheid. Hy het Suna goed geken en sy het hom dikwels vergesel na oorlogs- en rampgebiede om verslag te doen. Suna het sedert 2009 die US Woordfees bygewoon as lid van die RSG-nuusspan.
In samewerking met Stellenbosch 360. Gesprekleier: Andreas van Wyk. Met: Elize Anthony (sakevrou), Pat Botha (belangegroep), Stan du Plessis (US), Annemarie Ferns (Stellenbosch 360), Dale Simons (sakeman) en Gesie van Deventer (burgemeester). Baie Stellenbossers meen die dorp raak vinnig oorvol: Daar is al hoe meer inkommers, meer woonkomplekse, meer studente, meer besoekers, meer karre. In die proses gaan die wese van Stellenbosch as ’n historiese Bolandse dorp verlore. Is dit so? Is dit ’n probleem? Indien wel, kan en wil die dorp se inwoners iets daaraan doen? Kom besin saam oor dié tameletjie.
Aangebied deur die Stellenbosch NG Moedergemeente. Met: Johan van der Merwe, Leslie van Rooi, Nadia Marais en Michelle Boonzaaier. Gegewe die patriargale kultuur waarbinne die Bybel tot stand gekom het, kon die kerk hom/haar ooit uit die greep van manlike oorheersing bevry? Is interseksionele feminisme vreemd aan die wese van die kerk en waar staan die kerk ten opsigte van die aanvaarding of veroordeling daarvan? (‘Interseksie’ is ’n handeling of plek van deursnyding of kruising.)