Welkom by Netwerk24.com se podsendings! Netwerk24 is die digitale tuiste van jou gunsteling- Afrikaanse tydskrifte en koerante - alles op een plek!
Dit was ’n bedrywige naweek op die land se skolerugby-velde. Daar was bakleiery en k-woord-beweringe, maar aan die ander kant van die munt ook ’n spoggerige viering van sportmanskap in die Paarl.
Vandag op Rapport Praat Sport gesels ons met die Netwerk24-sportverslaggewer Wim Pretorius hieroor, en vra die vraag: Hoe het professionaliteit in skolerugby die sport verander?
Ons verwys ook na die oud-Affies-stut Deon Botes wat vir vier jaar geskors is weens die gebruik van ’n verbode middel.
° Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787. Sport | Rapport
Dié week op Rapport Praat Sport gesels ons oor die vier groot brandpunt-posisies in die Springbok-span voor die eerste toets in die Greatest Rivalry-reeks op 22 Augustus.
Hendrik Cronjé sê linkervleuel, losskakel, nr. 5-slot en vaskopstut sal Rassie Erasmus die langste besig hou wanneer hy sy span kies.
Rassie Erasmus het Siya Kolisi, Eben Etzebeth, Lood de Jager en Sacha Feinberg-Mngomezulu by sy Bok-groep ingesluit vir die toets teen Argentinië en die Greatest Rivalry-reeks teen die All Blacks.
Ons gesels vandag daaroor op Rapport Praat Sport, en kyk ook watter spelers se aandele gestyg het tydens die drie Nasieskampioenskap-toetse in Julie.
Ons praat ook oor Paul de Villiers se skitterspel, maar sê dit is nog heeltemal te vroeg om Kolisi af te skryf.
Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787. Sport | Rapport
Dié week sluit die legendariese rugbyskrywer Louis de Villiers hom op Rapport Praat Sport aan om Bok-rugby te gesels.
Ons gesels oor die ongelooflike diepte wat Rassie Erasmus gebou het. Louis sê ook wie tans sy gunsteling-Springbokke is. Een is ’n slot en een is ’n heelagter.
Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787 sodat ons dit in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
In dié week se episode van Rapport Praat Sport gesels ons oor die Springbokke se spogsege oor Engeland op Ellispark, en kyk vorentoe na die naweek se toets teen Skotland op Loftus Versfeld.
Die kaartjie-konsternasie kry maar net nie end nie – nou is dit Loftus Versfeld se losiehouers wat kwaad is vir die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru).
Ons gesels daaroor, oor hoe Rassie Erasmus sy Bok-span skitterend belyn gekry het... en oor hoe dankbaar ons is daar is dié naweek net een Damian in die span, om enige Speler van die Wedstryd-verwarring te vermy.
Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787 sodat ons dit in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Die Springbok-seisoen begin Saterdag in alle erns op Ellispark waar Engeland die Bokke inwag. Ons gesels op Rapport Praat Sport met die oud-Rose-flank Hendré Fourie oor dié kragmeting.
Fourie het agt toetse vir Engeland gespeel, maar is nou terug in Suid-Afrika en “het weer te veel biltong en sonskyn gesien om steeds ’n bleekbeen te wees”. Hy staan vierkant agter die Bokke.
Volgens hom is die Engelse se kapokhaan-flank Henry Pollock ’n uitstekende speler – “hy moet net die sideshows los”.
Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787 sodat ons dit in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Die Ierse media is tjoepstil oor Jacques Nienaber nadat Leinster ’n tweede agtereenvolgende seisoen die Verenigde Rugbykampioenskap gewen het. Die voormalige Springbok-afrigter was weke gelede nog die sondebok gewees. Sport | Rapport
Die Bulle was met hul rug vierkant teen die muur vroeër in die Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen ná vyf nederlae op ’n streep. Maar toe keer hulle die skip om en Vrydagaand pak hulle die magtige Leinster in die eindstryd in Dublin.
“Almal sal verstaan dat as ’n mens in so ’n gat is, begin jy wonder of jy die regte besluit geneem het, want ek kon langer by die Junior Bokke aangebly het. Ek het egter nooit geloof verloor nie,” sê Johan Ackermann, die Bulle se hoofafrigter, op dié week se episode van Rapport Praat Sport.
Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787 sodat ons dit in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Die Protea-vroue se jong veelsydige ster Annerie Dercksen sluit vandeesweek by Rapport Praat Sport aan om te gesels oor die T20-Wêreldbeker-toernooi wat die naweek begin.
Dercksen sê die span put baie selfvertroue uit hul spogvertonings in die laaste paar Wêreldbeker-toernooie, waar hulle drie keer die eindstryd gehaal het. So nou en dan durf hulle droom oor wat dié keer kan gebeur.
Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787 sodat ons dit in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Sacha Feinberg-Mngomezulu het een van die nuutste spelers op die Springbokke se krukkelys geword. Wie moet volgende maand vir die Bokke op losskakel teen Engeland begin?
Dié week op Rapport Praat Sport gesels ons daaroor en wie dalk in Julie hul toetsbuigings kan maak. Sport | Rapport
Jimmy Stonehouse sluit hom vandeesweek by Rapport Praat Sport aan om te gesels oor sy Puma-span se sege in die SA Beker-eindstryd.
Hy praat breedvoerig oor die kompetisiestrukture in Suid-Afrikaanse rugby, en verduidelik die uitdagings waarmee hy te kampe het om elke jaar ’n bieliespan te probeer bou.
Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787 sodat ons dit in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Embrose Papier sluit hom vandeesweek by Rapport Praat Sport aan om te gesels oor sy droomseisoen.
Dié skrumskakel het pas die Bulle se mees ervare nr. 9 van alle tye geword, en is boonop ná agt jaar terug in die Springbok-prentjie.
Hy vertel ’n bietjie waaraan hy moes werk om terug in Rassie Erasmus se planne te kom, en sê wat van hom ’n goeie skrumskakel maak.
Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787 sodat ons dit in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Heyneke Meyer sluit hom vandeesweek by Rapport Praat Sport aan om te gesels oor die herlewing by die SWD-Arende.
Die span het net-net kwalifikasie vir die Curriebeker-Premierliga misgeloop, maar hulself uitstekend van hul taak gekwyt in vanjaar se SA Beker-reeks.
Meyer sê daar loop ’n paar toekomstige Springbokke in die SWD rond.
Hy reken ook die gehalte van vanjaar se reeks was skitterend – “dalk selfs sterker as die Curriebeker”.
Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787 sodat ons dit in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Die Cheetahs moet g’n gunste van Griekwas verwag wanneer dié spanne mekaar Vrydagaand in Bloemfontein in die laaste ronde van SA Beker-ligawedstryde pak nie.
Die Poubloues sal maar al te goed onthou hoe die Vrystaters hulle gebyt het in die raadsale voor vanjaar se toernooi.
Die Vrystaat moet Vrydagaand wen om hul deelname in vanjaar se Curriebeker-Premierliga te bevestig.
In dié week se Rapport Praat Sport praat ons oor die verreikende gevolge as die Cheetahs nie kwalifiseer nie.
Ons gesels ook oor Jan Serfontein se skokuittrede uit rugby, en die Junior Springbokke se segetog in die o. 20-Rugbykampioenskap.
Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787 sodat ons dit in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Die losvoorspeler Lappies Labuschagné, wat al Japan in toetsrugby aangevoer het, sluit hom vandeesweek by ‘Rapport Praat Sport’ aan om oor sy uittrede en lang loopbaan te gesels. Sport | Rapport
Die Leeus speel skitterende rugby in vanjaar se Verenigde Rugbykampioenskap, en het nou vyf wedstryde agtereenvolgens gewen.
Die span is in die vierde plek op die punteleer en met drie wedstryde oor, wink die uitklopfase. Francke Horn, die Leeus se agtsteman en kaptein, sluit hom vandeesweek by Rapport Praat Sport aan om oor sy span se spogseisoen te gesels.
“Ons groep is nou al ’n hele paar jaar saam en die samehorigheid is goed, ons weet wat elke ander ou op die veld gaan doen. Ons was al saam deur groot laagtepunte verlede jaar en hierdie jaar het ons gesit en besluit wat ons wil bereik. Sover gaan dit goed,” sê Horn.
Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787 sodat ons dit in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Rugby, krieket, boks … die rockster Francois van Coke was nog altyd lief vir sport, maar nou is hardloop een van sy grootste stokperdjies.
Van Coke het pas sy tweede Twee Oseane-ultramarathon voltooi, in ’n tyd van 5 uur en 49 minute.
Hy sluit hom dié week by Rapport Praat Sport aan om te gesels oor sy hardloop-reis en sy liefde vir sport.
Van Coke was in sy o. 13-jaar die WP se Cravenweek-skrumskakel, en het ook vyf jaar gelede die voormalige Springbok-losskakel Derick Hougaard in ’n boksgeveg geklop.
“Ek spot altyd dat dit naas my kinders se geboorte die beste dag van my lewe was.”
• Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787 sodat ons dit in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Die week sluit een van die land se beste sportadministrateurs, Jacques Faul, hom by Rapport Praat Sport aan om te gesels oor die sakekant van sport.
Faul, die Titans se uitvoerende hoof, sê daar is deesdae soveel opsies vir sportaanhangers dat sekere reekse en toernooie erg sukkel om aandag te trek.
Faul verklap ook dat SA20-wedstryde by SuperSport-park in Januarie beter bygewoon is as die Proteas se T20-kragmeting daar met die Wes-Indiese Eilande.
Hy gesels ook oor Krieket Suid-Afrika se nuwe lys van nasionaal gekontrakteerde spelers.
• Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787 sodat ons dit in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Die Hoërskool Stellenberg word nie as ’n tradisionele rugbyskool gesien nie, maar het vanjaar reeds twee reuse neergevel: Paarl Gimnasium en Grey Kollege.
Dié skool se sporthoof, Andras Molnar, sluit hom vandeesweek by Rapport Praat Sport aan om oor hul sukses te gesels.
Hy vertel onder meer dat die skool ’n voltydse sportsielkundige in diens het.
• Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787 sodat ons dit in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Marais Erasmus het verlede week in sy laaste krieketwedstryd as skeidsregter gestaan.
Hy tree uit ná 26 jaar as witjas, waarin hy 82 toetse, 124 internasionale eendagwedstryde en 61 internasionale T20-wedstryde (mans en vroue) behartig het. Sport | Rapport
Dié week op Rapport Praat Sport gesels ons oor die verrassende uitnodigings wat Carlü Sadie en JJ van der Mescht gekry het om Rassie Erasmus se virtuele Springbok-belyningskamp by te woon.
Hulle is groot, sterk en swaar... maar is hul enjins groot genoeg vir Rassie-rugby? Ons gesels ook oor die opwindende laaste wedstryd in die Sesnasies-reeks, en die Blitsbokke se sukses in New York.
• Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787 sodat ons dit in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Die vuurwerke het behoorlik gespat in die afgelope naweek se Sesnasies-wedstryde, en met net een ronde wedstryde oor is daar steeds drie spanne wat met die trofee kan wegstap. So, watter spanne se aandele het gestyg in vanjaar se kompetisie, wie loop lang-lip. . . en wat kan die Springbokke daaruit neem met die oog op die komende Nasiesbeker-toernooi? Rapport se rugbyskrywers Hendrik Cronjé en Albert Heenop gesels met Marizanne Kok. Sport | Rapport
Pieter Bergh, Griekwas se hoofafrigter, sluit hom vandeesweek by Rapport Praat Sport aan voor die SA Beker die naweek begin. Sport | Rapport
Tinus van Staden, Rapport se sportredakteur, sluit hom vanuit Ahmedabad by die T20-Wêreldbeker by Rapport Praat Sport aan. Hy praat oor Suid-Afrika se suikersoet-sege oor Indië en vertel waarom hy dink die Proteas nié by die toernooi gaan 'choke' nie. Sport | Rapport
Marius Goosen, wat jare lank ’n hulpafrigter van Italië se nasionale rugbyspan was, sluit hom vandeesweek uit Japan by Rapport Praat Sport aan. Hy vertel waarom die Azzurri se Sesnasies-sukses nie vir hom so ’n groot verrassing is nie. Sport | Rapport
Tinus van Staden, Rapport se sportredakteur, sluit hom vandeesweek uit Indië by Rapport Praat Sport aan waar hy Suid-Afrika se senutergende T20-Wêreldbeker-sege oor Afganistan regstreeks beleef het. Sport | Rapport
Die skolerugbykenner Hannes Nienaber sluit hom vandeesweek by Rapport Praat Sport aan. Hy sê watter skole en spelers vanjaar dopgehou moet word en vertel hoeveel van die land se skole hul breiers betaal. Sport | Rapport
Neil de Bruin, die Bulle se nuwe aanvalsafrigter, sluit hom vandeesweek by Rapport Praat Sport aan om te gesels oor sy skuif na Loftus Versfeld.
Hy verduidelik hoe die Bulle besig is om hul seisoen om te draai, wat van Sebastian de Klerk en Jeandré Rudolph sulke goeie spelers maak en waarom Handré Pollard nie nét ’n skopmasjien is nie.
De Bruin gesels ook oor alles wat hy by sy pa, Swys, geleer het.
• Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 sodat ons dit in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
In 2026 se eerste episode van Rapport Praat Sport gesels ons met die grootbaas van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, Rian Oberholzer, oor alles wat dié jaar vir die beheerliggaam voorlê.
Ons pols hom ook oor die toekoms van Tony Brown, die Springbok-hulpafrigter wat glo hoog op Nieu-Seeland se wenslys is vir ’n toekomstige All Black-rol.
Oberholzer gesels ook oor die Greatest Rivalry-reeks wat voorlê, Suid-Afrika se deelname in Europa en talle ander Springbok-onderwerpe.
• Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 sodat ons dit in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Moet jy jou huis so vinnig moontlik afbetaal — of kan ’n langer verband jou finansieel verder neem?
In hierdie eerste Slim met eiendom-episode van 2026 gesels Malani Venter met eiendomsbeleggingspesialis Cobus du Preez (Real Estate Mate) oor ’n onderwerp wat sterk emosies en menings ontlok: die 30-jaar huisverband.
In dié week se Nuus in perspektief gesels Mia Spies en Almari Wessels met Netwerk24 se joernaliste oor die groot stories van die week
In ons laaste episode van vanjaar kyk ons terug op ’n jaar waarin die Springbokke na ’n nuwe rat oorgeskakel het en besef Rassie Erasmus het nie sy gelyke as rugbyafrigter nie.
Ons kies ons topdrie-Bokke van die jaar, die topdrie-spelers wie se aandele gestyg én gedaal het, en bespreek sekere fokusareas wat uitstaan. Sport | Rapport
Elke Vrydagoggend plaas twee van Netwerk24 se ondersoekende joernaliste, Mia Spies en Almari Wessels, die groot nuusgebeure van die week onder die vergrootglas.
Slegte nuus: Die All Blacks wag waarskynlik vir Suid-Afrika in die kwarteindronde van 2027 se Wêreldbeker-toernooi. Slegter nuus: Daarna wag Frankryk in die halfeindronde . . .
Suid-Afrika is in ’n redelik maklike groep geloot saam met Italië, Georgië en Roemenië, en behoort ook nie ’n taai stryd in die ronde van 16 te hê nie.
Daarna raak dinge egter rof . . .
Dié week in Rapport Praat Sport speel ons die Wêreldbeker op papier. Hendrik Cronjé sê ook Eben Etzebeth is beskikbaar om dié naweek vir die Haaie te speel.
• Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 sodat ons dit in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
In dié week se Nuus in perspektief gesels Mia Spies en Almari Wessels met Netwerk24 se joernaliste oor die groot stories van die week.
In dié week se Nuus in perspektief gesels Mia Spies en Almari Wessels met Netwerk24 se joernaliste oor die groot stories van die week.
Die Bokke het Ierland vermorsel, die Proteas het Indië verneder en Shukri Conrad het krieket se ou berugte G-woord opgediep . . . dit was gewis ’n besige week in die sportwêreld.
Vandeesweek op Rapport Praat Sport praat ons oor dit alles en Thinus Delport sluit hom ook by ons aan om te gesels oor die Springbokke se oorheersing in die rugbywêreld.
Delport, voormalige Bok-vleuel en -heelagter, praat oor Suid-Afrika se skrumoorheersing en die toets teen Wallis wat voorlê. Hy woon deesdae in Engeland en tree gereeld op as rugbykommentator in wedstryde in die Verenigde Rugbykampioenskap.
• Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 sodat ons dit in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Freek Burger, oudtoetsblaser, is keelvol vir die groot rol wat televisieskeidsregters deesdae in rugby speel.
“Die skeidsregter is nog altyd die persoon wat die finale sê het,” sê Burger, wat hom dié week by Rapport Praat Sport aansluit.
Burger gesels oor die rooi kaarte van Franco Mostert en Lood de Jager, oor Jan-Hendrik Wessels se skorsing en oor die algehele stand van sake in die blaserswêreld.
Hy is ook keelvol vir die talle “berade” wat die skeidsregter, sy assistente en die TV-blaser op die veld het wanneer beslissings gemaak word.
• Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 sodat ons dit in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Dit is nie meer ’n skande om teen Italië te verloor nie, sê Franco Smith.
Smith, voormalige hoofafrigter van die Azzurri, sluit hom dié week by Rapport Praat Sport aan om te gesels oor die Springbokke se klinkende sege oor Frankryk, en die toets teen Italië wat Saterdag voorlê.
Smith gee baie insigte oor hoe Italië se rugby die laaste paar jaar stoom opgetel het. Hy vertel ook vir lesers van ’n paar Italiaanse spelers wat die Bokke Saterdag probleme kan besorg.
Hy lug ook sy mening oor Lood de Jager se omstrede rooi kaart . . .
• Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Dié week sluit die voormalige Springbok-afrigter Heyneke Meyer hom op Rapport Praat Sport aan om te gesels oor sy nuwe pos as die SWD-Arende se nuwe hoofafrigter.
Meyer sê hy het langtermynplanne by dié unie, en dat daar baie uitdagings is wat oorbrug moet word. Die grootste daarvan is ’n tekort aan finansiële hulpbronne.
“Daar is skole met groter (rugby)begrotings as die SWD,” sê Meyer.
Hy is egter besig om innoverende planne te beraam.
Meyer gesels ook oor die Bokke se groot toets teen Frankryk Saterdag, en lug sy mening oor Suid-Afrika se losskakel-rykdom.
• Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Die groot Springbok-nederlaag teen Japan in 2015 was ’n “hoogte-laagtepunt” in sy loopbaan, sê Willem Alberts skertsend.
Dié oudlosvoorspeler was aanvanklik in die beginspan vir dié kragmeting, maar moes op die nippertjie onttrek weens ’n besering. Hy onthou wel hoe Bok-ondersteuners ná die nederlaag die spanbus met bottels bestook en die spelers se ma’s gevloek het.
Die Bokke pak Saterdag weer Japan in Engeland.
Alberts sluit hom vandeesweek by Rapport Praat Sport aan om daaroor te gesels en ook terug te kyk oor sy loopbaan van twee dekades.
• Ons wil baie graag van jou hoor. Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Al is hy in die winter van sy loopbaan, het die Springbok-heelagter Willie le Roux steeds ’n groot honger om vir sy land uit te draf. Sport | Rapport
Die voormalige Springbok-haker James Dalton praat oor sy boksgeveg teen Ollie le Roux in Bloemfontein, sy nuwe lewe ná drank en waarom hy die bynaam Bullet het. Sport | Rapport
Vandeesweek week op Rapport Praat Sport doen Tinus van Staden, Hendrik Cronjé en Jóhann Thormählen bestekopname van die Springbokke ná die verowering van die Rugbykampioenskap.
Ons elkeen kies ons topdrie-Bokke van die reeks, ons topdrie-spelers wie se aandele gestyg het, die drie wie se aandele dalk gedaal het en ons identifiseer drie kerngesprekspunte wat vir ons uitgestaan het. Een speler het elkeen van ons se topdrielys vir die beste Bok van die reeks gehaal. Kan jy raai wie dit is?
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Naas Botha is liries oor Suid-Afrika se drietal generaals van Handré Pollard, Manie Libbok en Sacha Feinberg-Mngomezulu.
Botha, eertydse skopkoning van Suid-Afrikaanse rugby, sluit hom vandeesweek by Rapport Praat Sport aan om te gesels oor Feinberg-Mngomezulu se spogvertoning teen die Poemas.
“Ek dink nie een van ons drie losskakels het werklik swak punte nie. Ons het op die oomblik drie van die wêreld se beste losskakels in die groep – laat staan nog net Suid-Afrika,” sê Botha.
Hy praat ook oor Libbok se verbeterde stelskopwerk en deel ’n paar staaltjies uit sy speeldae.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Swys de Bruin sluit hom dié week aan by Rapport Praat Sport om te gesels oor die Springbok-vroue se spogvertonings by die Wêreldbeker-toernooi in Engeland.
“Toe Dave Wessels my vra of ek nie die Bok-vroue wil afrig nie, het hy my middelpen geboul. Maar dit was die beste rugby-besluit wat ek nog geneem het,” sê De Bruin.
As oudafrigter van Griekwas en die Leeus, is hy ook die ideale mens om te gesels oor die Curriebeker-eindstryd van die afgelope naweek. Hy deel ook sy mening oor die Springbokke in aanloop tot Saterdag se groot toets teen Argentinië.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Paul Willemse (32) het vandeesweek sy uittrede uit rugby aangekondig nadat hy erg met harsingskudding gesukkel het. Hy sluit hom vandeesweek by Rapport Praat Sport aan om oor sy loopbaan te gesels.
“Toe ek aanvanklik in die Franse groep ingetrek is, was ek teleurgesteld met die span. Daar was nie respek nie, die ouens was nie lus nie,” sê dié oudslot.
Dit het egter alles verander toe Fabien Galthié as hoofafrigter oorgeneem het. Willemse gesels ook oor sy interessante grootwordjare, sy tyd saam met die Junior Springbok-span wat die Wêreldtoernooi in 2012 gewen het en hoe hy gevoel het tydens die Bokke en die Hane se titaniese kwarteindstryd in 2023.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Die oudblaser Freek Burger sluit hom vandeesweek by Rapport Praat Sport aan om te gesels oor die vertoning van die skeidsregter Karl Dickson in die afgelope Saterdag se Springbok-nederlaag teen Nieu-Seeland in Auckland.
“Waar was die konsekwentheid?” wil Burger weet.
Hy gesels ook oor die algemene probleme wat hy in die skeidsregterswêreld bespeur en gee sy mening oor waarom so min Suid-Afrikaanse blasers op die grootste verhoog is.
Ons bespreek ook die agterlyn wat Rassie Erasmus vir Saterdag se tweede toets in Wellington gekies het.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Die oud-Bok-slot Flip van der Merwe sluit hom by Rapport Praat Sport aan om te gesels oor sy reis om weer fiks te word. Hy het twee weke gelede die Ysterman-70.3-kompetisie in Vichy, Frankryk, voltooi. In die proses het hy sowat 30 kg afgeskud
“Mense dink dis baie veeleisend op jou bene en jou knieë, maar ek het nog nooit so heel gevoel soos nou nie,” sê Van der Merwe.
Hy gesels ook oor die Springbokke se toets teen die All Blacks Saterdag op Eden Park – ’n veld waar hy self 12 jaar gelede teen Nieu-Seeland uitgedraf het. Hy praat ook oor die omstrede rooi kaart wat Bismarck du Plessis in dié veelbesproke toets gekry het vir ’n klipharde duikslag op Dan Carter.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Niel Geyser, Dricus du Plessis se grond-en-greepwerk-ghoeroe, sluit hom dié week by Rapport Praat Sport aan en verduidelik in diepte wat in Stillknocks se geveg met Khamzat Chimaev gebeur het.“Khamzat het die kompetisie gewen, maar hy het nie die geveg gewen nie,” sê Geyser.Hy verklap ook Dricus se denkrigting rondom sy toekomsplanne.In dié week se episode gesels ons ook oor die Springbokke se sege oor die Wallabies, die All Blacks se nederlaag teen Argentinië en Asenathi Ntlabakanye se positiewe toets vir die gebruik van ’n verbode middel.Ons het ook ’n stemnota van die 75-jarige Pex van Greunen ontvang, wat vir Rassie Erasmus ’n bietjie raad gee.• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Dié week sluit Jody Hendricks hom op Rapport Praat Sport aan om te gesels oor die Springbokke se vernederende nederlaag teen die Wallabies die afgelope Saterdag op Ellispark.
“Dit is die grootste Bok-skok sedert die Japan-wedstryd in 2015,” sê Jody.
Ons praat oor alles wat verkeed geloop het: Die lynstane, afbreekpunte en die Bokke se versuim om ná hul groot voorsprong, terug te keer na tradisionele Bok-rugby. Ons glo wel sake sal dié naweek veel beter verloop.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
’n Reusesportnaweek lê vir Suid-Afrikaanse ondersteuners voor: Die Bokke pak die Wallabies, die Proteas sê die Aussies die stryd aan en Sondagoggend baklei Dricus du Plessis teen Khamzat Chimaev.
In vandeesweek se Rapport Praat Sport gesels ons daaroor en hoor ook wat sê Dewald Brevis van sy spogbeurt teen die Aussies.
Du Plessis praat ook oor sy groot geveg.
Hy sê hy weet hy kan sterf in die agthoek.
“En dit sal my glad nie pla nie. As dít die laaste ding is wat ek doen, sal dit ongelooflik wees. Ek sien nog nie ’n lewe ná dié geveg nie,” sê Du Plessis.
Ons praat oor Rassie Erasmus se spankeuses vir die Wallabies – en ons almal reken hy het raakgevat met Manie Libbok op losskakel. Ons wonder maar net: Hoekom is Bok-aanhangers altyd so vies as Libbok op nr. 10 begin?
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Met 10 minute se speeltyd oor was Boishaai Saterdag met 12 punte agter teen Paarl Gimnasium. Maar toe kom hulle met ’n reuse-terugvegpoging vorendag en wen met 35-33.
Sean Erasmus, Boishaai se breier, sluit hom vandeesweek by Rapport Praat Sport aan om oor sy span se spogsege te gesels.
Hy sê hy was maar effens gespanne met 10 minute se speeltyd oor, maar het heeltyd geweet sy span kan die knoop deurhak.
Erasmus vertel hoe hy vanjaar sy span se diepte bestuur het met ’n slim Bomb Squad-plan. Hy deel ook insigte oor hoe hulle by Boishaai te werk gaan om te verseker die leerlinge dink nie nét aan rugby nie.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
By die Boland-Kavaliers kan jy nou ’n jaar se voorraad bier of hoender wen. Jy kan ook ’n geloofsdiens by wedstryde op Sondae bywoon.
Dié week op Rapport Praat Sport sluit Quintin van Rooyen, die uitvoerende hoof van die Boland-Kavaliers, hom by ons aan om te gesels oor al dié unie se innoverende planne.
“Ons wil die mense van die Boland trots maak,” sê Van Rooyen.
Die Kavaliers lyk nie net weg van die speelveld goed nie, maar ook tussen die vier wit lyne. Hulle het die Vrystaat-Cheetahs Sondag in ’n dramatiese kragmeting met ’n drie in die 88ste minuut geklop.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Die vorige keer wat Johan Ackermann ’n groot Suid-Afrikaanse rugbyspan afgerig het, het hy ’n sukkelende Leeus-span terug op die wenpad gekry.
Nou wag ’n ander tipe uitdaging op hom. Die Bulle het in drie van die vorige vier VRK-eindstryde gespeel, en het enorme spelersdiepte. Ackermann, wat verlede week as die Ligbloues se nuwe breier aangestel is, sê in dié week se episode van Rapport Praat Sport sy nuwe pos is daarom uiters uitdagend.
Ackermann praat ook oor die Junior Bokke se sukses in Italië, en vertel oor die keer wat hy ’n paar koelbokse vol verversings in die Leeus se spankamer ingedra het.
Ons gesels ook oor Rassie Erasmus se Springbok-groep vir die Rugbykampioenskap.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
DeWet Marais, tweedespan-afrigter van Paul Roos Gimnasium, kon sy oë nie glo toe hy Saterdag sien die Springbokke doen ’n beweging wat hy en sy mede-afrigter Erhardt Muth vroeër vanjaar vir skolerugby uitgedink het nie.
DeWet, ’n voormalige SA Skole-afrigter, sluit hom dié week op Rapport Praat Sport aan en vertel hoe hy en Erhardt dié beweging een aand by ’n voorseisoense kamp in Hermanus uitgedink het.
Dit is vir hom ’n groot voorreg dat die Springbokke ook nou dié beweging gebruik.
“Rassie (Erasmus, Bok-breier) het die hek oopgemaak vir skoleafrigters om ook innoverend te probeer wees,” sê hy.
Ons gesels ook oor Johan Ackermann se aanstelling as die nuwe Bulle-afrigter.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Franco Smith sluit hom dié week op Rapport Praat Sport aan om te gesels oor sy loopbaan, die sukses wat hy by die Glasgow Warriors behaal het, en die moontlikheid dat hy by Jake White kan oorneem as afrigter van die Bulle.
“Ek is nog onder kontrak in Skotland, maar daar is baie uitdagings in Skotse rugby tans. Dit is ’n voorreg om in die gesprek genoem te word (as kandidaat vir Bulle-breier) en ons sal sien hoe speel sake uit,” sê Smith.
Hy werp meer lig op die uitdagings by die Warriors, en gesels ook oor Italiaanse rugby nadat die Azzurri die Springbokke die afgelope naweek in Pretoria frustreer het. Smith is ’n voormalige hoofafrigter van Italië.
Ons gesels ook oor Wiaan Mulder se besluit om die Proteas se beurt gesluit te verklaar teen Zimbabwe met Brian Lara se rekordtelling van 400 in sig. Smith, ’n goeie krieketspeler op sy dag, gee ook sy mening hieroor.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Ruan Smith is pas aangekondig as die nuwe vrygesel van KykNET se maatsoekprogram ‘Op my Eish!’. Dié week in Rapport Praat Sport gesels ons met dié voormalige Leeus-stut oor sy nuwe avontuur wat voorlê.
Smith gesels ook padlangs oor sy rugbyloopbaan en die uitdagings wat hy in die gesig gestaar het ná sy uittrede verlede jaar.
Smith sê hy het sy rugby die laaste paar jaar nie meer soos vroeër geniet nie. Hy glo ook ’n verandering is op Ellispark nodig as die Leeus weer ’n rugbykrag wil word.
“Hulle kort iemand wat die hamer gaan slaan,” sê hy.
Hy praat ook met groot lof oor Jake White, wat meer as 10 jaar gelede vir hom ’n geleentheid by die Brumbies gegee het.
Smith verduidelik ook hoe die poetse begin het wat hy en sy tweelingbroer, JP, gereeld op mekaar bak. JP is ook ’n oudrugbyspeler. Die tweeling het mekaar al deur diep waters gehelp, sê Ruan.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
In dié week se Rapport Praat Sport bespreek Tinus van Staden, Hendrik Cronjé en Brenden Nel die burgeroorlog wat by Loftus Versfeld woed.
Jake White gaan nie die rebellie teen hom oorleef nie.
White, die Bulle se direkteur van rugby en hoofafrigter van die VRK-span, het sy kleedkamer verloor. Senior spelers soos Ruan Nortjé en Marcell Coetzee het onlangs ’n afvaardiging van spelers gelei wat met die Bulle-topbestuur oor White se leierskap vergader het.
White geniet wel die ondersteuning van die Bulle se aandeelhouer Johann Rupert, maar selfs dit gaan hom nie kan red nie.
Ons gesels ook oor die Bokke se wedstryd teen die Barbarians Saterdag in Kaapstad.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Vandeesweek in Rapport Praat Sport kyk ons na die Proteas se spogsege in die eindstryd van die Wêreld-toetskampioenskap. Ons hoor by Shukri Conrad wat dié oorwinning vir hom en sy span beteken.
Ons hoor ook by Rassie Erasmus, Springbok-afrigter, wat sy planne vir die jaar inhou en wanneer hy beoog om Boan Venter, sy nuwe loskopstut, op die grootste verhoog te toets.
Ons bekyk ook die Bulle se nederlaag in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap teen Leinster.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Die komediant en akteur Schalk Bezuidenhout het Sondag die Comrades-ultramarathon vir die eerste keer aangedurf en ’n tyd gehardloop waarmee hy sommer baie tevrede is.
Dié week sluit hy hom op Rapport Praat Sport aan en gesels oor sy voorbereiding en sy wedloop. Hy vertel hy het in ’n stadium begin mik vir ’n goeie tyd en aanhoudend somme in sy kop gedoen om te verseker sy pas is reg.
Dit was in dié stadium dat ’n pa en sy seun hom langs die pad herken, en sommer agter hom begin aanhardloop om sy handtekening te kry!
Ons gesels ook oor die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap, en hoor by Victor Matfield wat die Bulle moet doen om Leinster te troef.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Die oogknip-herrie het die rugbywêreld behoorlik op hol. Siya Kolisi sê die Iere moet oor Jaden Hendrikse se stoute oogknip vir die Munster-losskakel Jack Crowley kom. Munster sê Hendrikse het aangesit – hy het g’n ’n kuitkramp gehad in dié spanne se spannende uitskopstryd verlede naweek op Kingspark nie.
Dié week in Rapport Praat Sport sluit Neil Powell, die Haaie se direkteur van rugby, hom by ons aan en onthul Hendrikse se kramp was so erg dat dié skrumskakel Dinsdag steeds nie kon oefen nie.
Powell verklap ook wat alles agter die skerms gebeur het toe hulle besef die VRK-kwarteind stuur op ’n skopstryd af. Pakke dokumente is bestudeer, waaghalsige strategiese plaasvervangers is opgestuur, en ’n wit tekenbord is uitgerus om taktiek op te trek.
Powell vertel ook hoe die jong Bradley Davids van oor tot oor geglimlag het voordat hy begin aanlê het pale toe.
In nog dramatiese sportnuus hoor ons by Heinrich Klaasen wat die rede agter sy skok-uittrede uit internasionale krieket is.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Johann van Graan, voormalige Springbok-hulpafrigter, het in 2022 ’n Bath-rugbyspan geërf wat, in sy eie woorde, gebroke was.
Binne drie seisoene het Van Graan dié Engelse span in ’n breker-eenheid omskep. Bath het vanjaar reeds die Premierliga se Beker-kompetisie gewen, en ook die Uitdaagbeker verower deur verlede naweek vir Lyon te klop.
Hulle is boonop reeds verseker van die boonste plek op die Premierliga-punteleer.
Van Graan sluit hom dié week op Rapport Praat Sport aan en gesels oor die Bomb Squad-les wat hy by Rassie Erasmus geleer het, waarom hy glo Thomas du Toit een van die beste stutte ter wêreld is, en wat van Finn Russell ’n briljante rugbyspeler maak.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
As ’n jong laaitie in Upington was dit Rayno Nel se droom om eendag groot rugby te speel.
Dié droom het later begin wegsyfer . . . en plek gemaak vir iets anders.
Nel het die afgelope naweek die Worlds Strongest Man-kompetisie in Amerika gewen.
“Ek sal nou dié sport vir niks verruil nie,” sê Nel in vandeesweek se episode van Rapport Praat Sport.
Hy vertel wat dit verg om ’n sterkman te wees en sê ’n moeilike besluit wag nou op hom. Hy beoefen sy sport nou as amateur terwyl hy voltyds as ’n ingenieur werk, maar dít kan dalk binnekort verander . . .
Nel vertel ook van die dag toe hy besef het hy kan dalk ’n sterkman wees.
“Ons het toetse by die Ixias (die Sentrale Universiteit vir Tegnologie se rugbyspan) gedoen en toe bench press ek 200 kg.”
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na ons op 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Ná ’n loopbaan van bykans twee dekades, en 435 eersterangse wedstryde, het Brok Harris sy tokse weggebêre.
Dié week sluit die Stormers-strydros hom by ons aan op Rapport Praat Sport om te oor sy loopbaan gesels. Hy verklap sy taaiste teenstander, die beste speler saam met wie hy ooit gespeel het, en hoe hy die teleurstelling verwerk het om nooit vir die Bokke te speel nie.
Hy vertel waar sy bynaam vandaan kom, wie die eerste Stormers-spelers was wat hom laat welkom voel het in die Kaap, en hoe dit gevoel het om twee wedstryde op een dag te speel.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur stemboodskappe na ons op 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Dawie Theron was al die afrigter van Griekwas en die Junior Bokke, en ’n hulpafrigter by die DoCoMo Red Hurricanes in Japan. Waar was hy die gelukkigste? Net waar hy nou is – by Paarl Gimnasium as dié skool se direkteur van rugby.
“Ek verdien seker die minste geld tot nog toe in my loopbaan, maar ek was nog nooit gelukkiger nie,” vertel Theron dié week op Rapport Praat Sport.
Die oud-Bok-stut sê ook waarom hy glo die land se ryke skoletalent nie altyd in die Junior Bokke se uitslae weerspieël word nie.
Theron vertel dan in die fynste besonderhede hoeveel hase hy uit hoede moes ruk om Handré Pollard in 2012 by die Junior Bokke betrek te kry. Pollard was toe nog in matriek.
Hy gesels ook oor Franco Smith, sy tyd as skoolkind in Bloemfontein, en die skolerugby-sensasie Markus Muller.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Anthonie Bougas, stigter van die Kleuterzone Groep van Skole, het daarin geslaag om op groot skaal duisende beleggers met leë beloftes te lok om in sy kleuterskole-skema te belê.
’n Belegger, wat slegs as Alicia geïdentifiseer wil word, het in Augustus 2023 betrokke geraak en saam met haar man, suster en swaer saam sowat R1,5 miljoen in die skema verloor. Alicia het met Netwerk24 stemboodskappe tussen haar en Bougas gedeel waarin ’n mens self kan hoor hoe Bougas haar met “geoliede verkoopsmanpraatjies” en “leë beloftes” ingelok het. Netwerk24
Hy het sy neus etlike kere gebreek, albei sy wangbene gebreek, 12 operasies op die regterknie gehad en drie aan die regterskouer . . . geen wonder dat Jacques Burger bekend staan as een van die taaiste, mees ongenaakbare rugbyspelers tot nog toe.
Vandeesweek sluit dié Namibiese boer hom op Rapport Praat Sport aan om te gesels oor sy rol as die Biltongboere se direkteur van rugby en ’n bietjie terug te kyk op sy loopbaan.
Hy verklap wie sy taaiste spanmaat tot nog toe was (jy kan dalk verbaas wees) en wei ook ’n bietjie uit oor Owen Farrell.
“Hy het altyd aan my geskree: Hit’em, Jack, hit’em, Jack!”
Hy vertel ook die storie van hoe die Harry Potter-skrywer J.K. Rowling hom in een van haar boeke ingeskryf het en toe sommer vir hom ’n eksemplaar geteken het.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Skolerugby is reusagtig groot in Suid-Afrika. ’n Paar weke gelede het ons op Rapport Praat Sport die vraag gevra: Is dit besig om te professioneel te word? Dié week sluit Hannes Nienaber, die grootste skolerugby-kenner in die land, hom by ons aan.
Ons praat oor skolerugby-strukture, reisreëlings, die keurproses en hoe beroepsgerig die spel nou werklik is op skolevlak. Hannes verduidelik ook hoe die “koop-proses” in skolerugby werk, en gee vir luisteraars ’n paar voorbeelde van spelers om voor uit te kyk hierdie jaar.
Hy vertel ons ook hoe die ranglyste werk, en watter twee spanne volgens almal die top-twee in die land is vanjaar.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Josh Strauss sluit hom vandeesweek op Rapport Praat Sport aan om te gesels oor die Ikeys se sege in die Varsitybeker-reeks. Strauss, voormalige losvoorspeler van die Leeus, Glasgow, die Bulle en natuurlik Skotland, is die Ikeys se voorspelerafrigter.
Hy vertel van ’n spanpraatjie wat die Bok-flank Schalk Burger eenkeer gelewer het en hoe hy in die kol was met sy bier-filosofie.
Strauss praat ook oor sy loopbaan, wat die toekoms vir hom inhou en hoe dit gevoel het om vir Skotland uit te draf.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
In hierdie episode verken ons die wêreld van deeglike finansiële beplanning vir eerstehuiskopers. Ons kundige gas, Brian Mabotha, deel waardevolle insigte oor hoe om jou finansies doeltreffend voor te berei vir dié opwindende mylpaal.
In dié week se Rapport Praat Sport sluit Neil Powell, die Haaie se direkteur van rugby, hom by ons aan. Hy verduidelik die denkrigting agter die besluit om nie hul sterkste span na Lyon te stuur vir hul Uitdaagbeker-uitklopwedstryd daar nie.
Hy verklap ook wanneer Eben Etzebeth en Aphelele Fassi na verwagting hul terugkeer ná beserings sal maak, en sê die span gaan voluit gaan vir silwerware in die Verenigde Rugbykampioenskap.
Powell praat ook in diepte oor die span se kontrakteringsmodel, en gesels oor die Haaie se twee jong stersenters Jurenzo Julius en Ethan Hooker.
• Ons wil baie graag van jou hoor! Stuur vir ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Die TV-aanbieder Anzél Rabie, se dogtertjie word oor ’n paar maande twee. Marelize en Charlea gesels met haar oor die grootste veranderings en aanpassings in haar lewe sedert sy ma geword het. Sy vertel hoe haar roetine tuis verander het en hoe sy haar verhoudings en werk balanseer met die eise wat ’n baba stel.
Is Gautengers beter bestuurders en hoe mens om 'n sirkel moet ry.
Aangebied deur Anita Lloyd en Candice Bester.
Potte by dosyne en hoe hangplante die regte voeding en water moet kry. Pasop vir té veel water vir jou potplante, sê JJ!
In vandeesweek se Rapport Praat Sport gesels ons oor die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK), skolerugby en krieket.
Ons wonder hardop waarom die Haaie steeds nie volgens hul volle potensiaal presteer nie, maar besing ook Siya Kolisi se lof. Hy is tans die beste voorbeeld van die soort uithalerspel wat ’n gereelde Springbok vir sy plaaslike span moet lewer.
Die skolerugby-seisoen begin momentum optel en ons bespreek weer die vraag: Het skolerugby te professioneel geword? Stuur tradisionele rugbyskole nog goed gebalanseerde seuns die wêreld in ná skool?
Rob Walter het skielik uit sy pos as Protea-witbalafrigter bedank. Wat skuil daaragter en wie gaan hom opvolg?
Dit en nog baie meer, vandeesweek in Rapport Praat Sport.
• Ons wil ook baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Enkele dae nadat die bom om Anthonie Bougas, stigter van die Kleuterzone Groep van Skole, se kop gebars het, het Jana van der Merwe, Netwerk24 se ondersoekende redakteur, self met hom gesels. Luister hier na uittreksels van die gesprek op 20 Februarie, voordat hy landuit is. Netwerk24
Hendrik Cronjé vertel dié week in Rapport Praat Sport die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het belangstelling van oorsese maatskappye gekry om die Springbokke se nuwe hoofborg te word, maar die aanbod wat Eerste Nasionale Bank (FNB) op die tafel geplaas het, was eenvoudig te goed om te ignoreer.
Skielik, sê Hendrik, is Suid-Afrikaanse rugby in ’n baie gesonde posisie.
Die voormalige 400 m-hekkiesatleet LJ van Zyl sluit hom ook by ons aan om te gesels oor die prestasies van atlete soos Bayanda Walaza en Prudence Sekgodiso. Ons betree nou ’n goue era wat atletiek in Suid-Afrika betref, sê hy.
LJ vertel ook meer oor sy doktorale studie, wat fokus op 11 Olimpiërs se lewensreise en ook kyk na die lewe ná sport.
Ons wil ook baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Vandeesweek se Rapport Praat Sport is ’n spesiale een: Die legendariese Jimmy Stonehouse, Puma-afrigter, sluit hom by ons aan. Hy praat padlangs oor die uitdagings wat die Pumas in die gesig staar, oor die huidige rugby-milieu en hoe dit in die laaste paar jaar verander het, maar ook oor dít wat hulle steeds in Mbombela regkry.
Jimmy sê hoe belangrik dissipline en respek vir hom is – soveel so dat hy verlede jaar ’n paar spelers weggejaag het: “En dit het ons ’n plek in die halfeindronde gekos.”
Hy wei ook uit oor die belangrikheid van internasionale deelname vir ’n span soos die Pumas en sê ook wat hom laat tiek: “As iemand my vra wanneer het jy dit gemaak, sê ek as jy opstaan en jy is gelukkig met wat jy doen. Then you’ve made it.”
Ons wil ook baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
In dié week se Rapport Praat Sport bespreek Tinus van Staden en Fanie Heyns die jongste transformasie-herrie in Suid-Afrikaanse Krieket. Die Warriors is met ’n boete van R500 000 gelooi én is hul plek in die Eendagreeks se uitspeelwedstryde kwyt omdat hulle sonder toestemming nie aan KSA se transformasieteikens voldoen het vir ’n kragmeting met die Dolphins nie.
Ons bespreek dié situasie en kyk ook na transformasie in die breë in Suid-Afrikaanse krieket. Word genoeg gedoen om te verseker die Proteas het ’n groot en diverse talentpoel om uit te kies? Indien nie, wat kan nog gedoen word? Wanneer gaan ons die punt bereik waar teikens oorbodig is?
Ons wil ook baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Springbok-nuus is volop: Felix Jones keer terug, Handré Pollard word weer ’n Bul . . . en Rassie Erasmus het Woensdag op sy eerste mediakonferensie van die jaar onthul hy wil nóg drie Bok-wedstryde – twee toetse en ’n kragmeting met die Barbarians – tot die span se skedule vir 2025 voeg. Dit sal beteken Suid-Afrika speel vanjaar in 15 wedstryde. ’n Propvol rugby-spyskaart!
Hendrik Cronjé sê Pollard gaan een van die grootste plaaslike kontrakte tot nog toe kry, maar hy is steeds agter Siya Kolisi in die tou van Suid-Afrikaanse rugbyspelers met die beste inkomste.
Ons wonder ook hardop wat Tony Brown dink van Jones se terugkeer. Tony is immers in sy voormalige pos aangestel . . .
Hendrik sê ook Erasmus, Jones, Jerry Flannery en Jacques Nienaber is steeds saam op ’n WhatsApp-groepie.
Ons wil ook baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
In vandeesweek se Rapport Praat Sport kyk ons terug op die spogloopbaan van Steven Kitshoff en hoor ook sy raad vir spelers wat die lewe ná rugby betref.
Hendrik Cronjé verklap ook hy werk aan ’n berig vir Sondag oor die Stormers se opvolgplan ná Kitshoff se uittrede.
Ons gesels ook oor die moeilike oorgang van rugbyspeler na die “gewone lewe” en bekyk Wêreldrugby se vreemde regulasies wat Benhard Janse van Rensburg nou dalk gaan verhinder om vir Engeland te speel.
Ons wil ook baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Philip Snyman, die Blitsbok-breier, vertel dié week in Rapport Praat Sport hoe hy lesse by dié span toepas wat hy by die Springbok-afrigter Rassie Erasmus geleer het. En dit handel natuurlik ook oor Erasmus se slim planne wat spansamestelling betref.
Die Blitsbokke speel dié naweek in die Vancouver-toernooi van die Wêreld-sewesreeks, en Snyman vertel hoe hy sy groep vir die toernooi gekies het.
Snyman sê ook: “Skryf dié jong man se naam neer, hy is spesiaal...”
Gepraat van Erasmus – het julle gesien hoe die Sesnasies-afrigters hom probeer naboots?
Ons wil ook baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
In vandeesweek se Rapport Praat Sport sluit Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie, hom by ons aan om te praat oor al die uitdagings op die rugbylandskap. Hy benadruk die belangrikheid van goeie, betroubare ekwiteitsvennote in rugby en sê ’n 12-maande-rugbykalender is nie volhoubaar nie. Ons praat ook oor Matthew Breetzke se spogbeurt teen Nieu-Seeland, Dricus du Plessis se oorwinning oor Sean Strickland en die Bulle se “tronk-ontsnapping” in Kaapstad.
Ons wil ook baie graag van jou hoor! Stuur aan ons stemboodskappe na 076 878 1787 wat ons in die volgende episode kan speel. Sport | Rapport
Dit is ’n waterskeidingsweek vir Suid-Afrikaanse rugby, met ’n reuse-vergadering wat Donderdag in Johannesburg plaasvind. Hendrik Cronjé sê sommige rugbybase voel die toekoms vir Suid-Afrikaanse rugby lê in ’n stelsel met slegs ses tot agt beroepspanne, en die res wat dan amateur-status het.
Ons gesels ook oor die SA20-liga, Sesnasies-reeks, Dricus du Plessis se reuse-geveg teen Sean Strickland wat voorlê en oor die onervare Protea-span wat gekies is vir die driehoekige toernooi teen Nieu-Seeland en Pakistan. Ons hoor ook by Rob Walter hoe hy voel oor Temba Bavuma se gereedheid vir die Kampioenetrofee, nadat die Protea-kaptein nie in die SA20-liga in aksie was nie.
Ons wil ook baie graag van jou hoor! Stuur vir ons stemboodskappe wat ons op die volgende episode kan speel na 076 878 1787. Sport | Rapport
In dié week se Rapport Praat Sport sluit Vlok Cilliers hom by ons aan om te gesels oor Frankryk se voorbereiding vir die Sesnasies-reeks. Hy verduidelik wat van Antoine Dupont so ’n spesiale speler maak, en verklap ook wie die beste skopper is wat hy tot nog toe afgerig het. Jóhann Thormählen keer ook vir sy paaltjies ná nóg ’n wilde Stormers-voorspelling. Laat weet ons wat jy dink by tinus.vanstaden@rapport.co.za, of stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787. Sport | Rapport
In vandeesweek se Rapport Praat Sport sluit Albert Heenop hom by Tinus van Staden en Jóhann Thormählen aan en deel staaltjies en inspirerende stories oor al die sportlui met wie hy al gesels het vir sy gewilde Wat het geword van-onderhoude. Hy vertel stories van Frik du Preez, Gary Player, Tommy Bedford, Rob du Preez, Kallie Knoetze, Shaun Tomson . . . en een van Leon Schuster en Dok Craven wat jy nié wil misloop nie. Laat weet ons wat jy dink by tinus.vanstaden@rapport.co.za, of stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787. Sport | Rapport
Dié week op Rapport Praat Sport sluit die Protea- en MI Cape Town-kolwer Rassie van der Dussen hom by ons aan. Hy onthul dat sommige oorsese spelers in vorige reekse van die SA20-liga “bloot in Kaapstad was om vakansie te hou”.
Laat weet asseblief wat jy dink by tinus.vanstaden@rapport.co.za, of stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787. Sport | Rapport
Die meeste Springbok-ondersteuners ken teen dié tyd al die naam Ben Smith... Daai Nieu-Seelandse rugbyskrywer wat nie ’n goeie woord oor die Bokke te sê het nie. In dié week se Rapport Praat Sport spreek ons die wens uit dat die Springbokke hom met twee wegseges oor die All Blacks in sy baan kan hou. Ons praat ook oor Rassie Erasmus se planne vir die jaar, en wonder of die Proteas nie dalk ’n beter kans staan as wat mense dink om die Aussies op Lord’s te klop nie. Wat is jou sportwense vir 2025? Laat weet ons by tinus.vanstaden@rapport.co.za, of stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787. Sport | Rapport
As hy nou terugkyk, glo George Linde hy moes ’n sielkundige gaan sien nadat hy op onverklaarbare wyse weggelaat is uit die Protea-groep vir die T20-Wêreldbeker-toernooi vir 2021. Maar nou is hy terug in die Protea-prentjie, en hóé! In dié week se Rapport Praat Sport vertel hy ook die staaltjie van hoe hy die bus verpas het vir die kragmeting met Pakistan verlede week, en lig die sluier oor die geestelike ingesteldheid waarmee hy deesdae op die krieketveld stap. Tinus van Staden en Jóhann Thormählen kies ook hul top-drie- Suid-Afrikaanse sport-oomblikke, en -sportsterre van 2024. Laat weet ons wie jy sou kies by tinus.vanstaden@rapport.co.za, of stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787. Sport | Rapport
Dit is nie toevallig dat Ivan “Cash” van Rooyen juis die Lééus se hoofafrigter geword het nie. Hy het immers tussen die Groot Vyf skoolgegaan. In dié week se Rapport Praat Sport gesels Hendrik Cronjé en Tinus van Staden met Van Rooyen oor die Leeus se opgang, en sy grootwordjare in die Krugerwildtuin. Ons hoor ook watter Suid-Afrikaanse span Frédéric Michalak glo die beste gaan vaar in die Kampioeneliga. Jóhann Thormählen vertel hoe die atmosfeer by die Kaapstad-sewestoernooi was. En hier is ’n triviavraag vir jóú: Vanjaar het vyf Proteas hul eerste toetshonderdtalle geslaan. Die jaar met die vorige meeste debuut-honderdtalle was in 2016, toe drie Protea-kolwers die eerste keer dié mylpaal bereik het. Wie was dié drie kolwers? Laat weet ons by tinus.vanstaden@rapport.co.za, of stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787. Sport | Rapport
In dié week se Rapport Praat Sport sluit Jaco Peyper – die Springbokke se reël-adviseur, oftewel blaser-breier – hom by ons aan en gesels oor alles van Jerry Flannery se Afrikaans tot sy eie rol aan Rassie Erasmus se sy. Tinus van Staden en Jóhann Thormählen praat ook oor hoe Wêreldrugby sewesliefhebbers beroof met ’n onsinnige nuwe formaat vir die toernooi in Kaapstad. Ons wonder ook hardop of SA Rugby se plan om ’n vennootskap met die Amerikaanse belegger Ackerley te sluit Vrydag gaan sneuwel. Laat gerus van jou hoor by tinus.vanstaden@rapport.co.za, of stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787. Sport | Rapport
In dié week se Rapport Praat Sport onthul Hendrik Cronjé dat Rassie Erasmus pas ’n groot operasie ondergaan het. Ons praat ook oor die toekoms van Steven Kitshoff se loopbaan ná ’n nekoperasie, en neem die Bokke se spogseisoen in oënskou. Laat weet ons gerus wat jou hoogte- en laagtepunte van die jaar was, by tinus.vanstaden@rapport.co.za, of stuur ’n stemboodskap na 076 878 1787. Wees ook op die uitkyk – volgende week het ons weer ’n spesiale gas wat hom by ons aansluit. Sport | Rapport
Johan Ackermann sluit hom dié week by Tinus van Staden, Hendrik Cronjé en Jóhann Thormählen op Rapport Praat Sport aan om te gesels oor sy nuwe rol by die Junior Springbokke. Hy verduidelik waarom hy dié pos aanvaar het, verklap ’n paar geheime van Japanse klubrugby en erken ’n pos by die Bokke iewers in die toekoms is iets wat hy met albei hande sal aangryp. Peter Engledow, Cameron Hanekom se skole-afrigter, vertel van die dag dat Hanekom vir hom gesê het: “Meneer, ek sal dít nooit weer toelaat nie.” En voel dit vir jou ook of Rassie Erasmus na Cardiff opruk met ’n bazoeka om ’n hasie te jag, waar ’n windbuks sou deug? Sport | Rapport
In dié week se Rapport Praat Sport met Netwerk24 erken die grootbaas van SA Rugby, Rian Oberholzer, dit voel soms vir hom of daar jaloesie is oor Suid-Afrika se sukses. Dít nadat die rugbywêreld alweer knorrig is oor Rassie Erasmus se Bomb Squad. Oberholzer verduidelik ook waarom Suid-Afrika die 20-minuut-rooikaart-reël steun, en onthul Mark Alexander is gevra om te staan vir die pos van Wêreldrugby-voorsitter. Hendrik Cronjé en Tinus van Staden bespiegel oor wie die nr. 10-trui teen Engeland gaan dra, en die voormalige Namibiese losvoorspeler Renaldo Bothma vertel hoe hy met depressie en alkoholmisbruik gesukkel het nadat sy loopbaan beëindig is deur ’n krokodilrol – soortgelyk aan die een wat die Skotse slot Scott Cummings ’n rooi kaart teen die Bokke besorg het. Zandberg Jansen 2.0 maak ook weer sy opwagting. Stuur gerus enige vrae of kommentaar na tinus.vanstaden@rapport.co.za.
Lees Al Rapport se sportberigte op Nettwerk24 by https://www.netwerk24.com/rapport Sport | Rapport
Die voormalige Springbok-afrigter Heyneke Meyer gesels vandag saam met Hendrik Cronjé en Tinus van Staden oor alles van rugby in Amerika tot die geheime van Bok-hardlooprugby. Hy dink terug aan van die spelers wat hy gebrei het: Van Joost van der Westhuizen tot Fourie du Preez, Victor Matfield en Handré Pollard. Ons wonder hardop waarom Rassie sy span-aankondiging na Vrydag geskuif het, en verwelkom ook nóg ’n spesiale gas op die program – Dulene van der Merwe, ma van die Skotse vleuel Duhan. Sy praat ’n bietjie oor die Stormers-gerugte, en Duhan se driedruk-rekord. Ons sluit af met ’n spesiale verslag deur “Zandberg Jansen 2.0”. Sport | Rapport
Eers was dit ’n losskakel vir ’n haker. Nou ’n losvoorspeler vir ’n agterspeler... en selfs ’n losskakel vir ’n stut! Ons gesels oor Rassie Erasmus wat wéér interessante spankeuses maak. Jóhann Thormählen sê waarom Damian Willemse se afwesigheid die Bokke vanjaar minder hard tref as wat verlede jaar die geval sou wees, en ons kies ons vyftientalle vir die toets teen Skotland. Ons spreek ook die oli-Faf in die kamer aan (selfs Francois van Coke se naam duik op), en Hendrik Cronjé verduidelik die rigting wat Rassie in die toekoms wil inslaan. Sport | Rapport
Die Bulle het in albei hul laaste wedstryde rooi kaarte ontvang wat by nabetragting afgegradeer is na geel. Die besluit vandeesweek dat die haker Johan Grobbelaar nie werklik rooi moes sien nie, het egter te laat gekom om die Bulle van ‘n eenpunt-nederlaag te red.
Met Wêreldrugby op die punt om te stem oor die instelling van die 20 minuut-rooikaart woed ‘n hewige debat weer oor watter oortredings erg genoeg is om ‘n speler se wedstryd te beëindig (en sy span op die agtervoet te hou). Ons sportskrywers Hendrik Cronjé en Johann Thormahlen deel hul menings met ons.
Ons gesels ook oor die diepte in Springbok-rugby, die hoogte- en laagtepunte van die Protea-krieketvroue se pas-afgelope Wêreldbeker-toernooi en Kagiso Rabada se grootse mylpaal in die eerste toets teen Bangladesh. Sport | Rapport
Ons gesels oor die stand van sake met SA Rugby se beoogde Ackerley-vennootskap, en Hendrik Cronjé onthul ’n nuwe voorstel van die Stormers, Leeus, Bulle en Haaie om Saru se planne omver te werp. Ons praat ook oor Gayton McKenzie, die minster van sport, kuns en kultuur, se betrokkenheid by die voornemende ooreenkoms. Dit is ook die eerste keer dat ’n gas hom regstreeks by ons aansluit. Jacques Faul, die uitvoerende hoof van die Titans en een van die land se mees gesiene sportadministrateurs, praat oor die ekonomiese verskuiwings in die sportlandskap. Hy waarsku ook teen die gevare van eiebelang. Jóhann Thormählen verduidelik die stand van sake in vrouerugby, en ons bekyk die jongste uitslae in die Verenigde Rugbykampioenskap. Sport | Rapport
Hendrik Cronjé onthul wat sy bronne vir hom sê oor Rassie Erasmus se rotasie-planne vir die drie toetse op die jaareindtoer. Ons gesels ook oor die spelers en spanne wat tot dusver indruk maak in die Verenigde Rugbykampioenskap (hoe lekker brul dié trop Leeus nie!). Wêreldrugby het ook weer gaan staan en torring aan die reëls... maar gaan dit dalk ’n kobra-effek tot gevolg hê? Jóhann Thormählen voorspel sy wenners van dié naweek se VRK-wedstryde (druk toe jou ore, Stormers-fên), Tinus van Staden gesels oor die tekort aan diepte in Suid-Afrikaanse krieket en vele meer in dié week se Rapport Praat Sport. Sport | Rapport
‘n Eenheidsregering wil maar net nie vlot in Gauteng of sy metrorade nie. Liezel de Lange en Dawie Boonzaaier gesels oor die nadraai van Cilliers Brink se verwydering as Tshwane-burgemeester en die rol van Gauteng se omstrede premier, Panyaza Lesufi in die proses. Intussen wys ‘n nuwe peiling die meerderheid Suid-Afrikaners glo in die regering van nasionale eenheid (RNE). Die steun van RNE-partye soos die ANC, DA, IVP en PA groei terwyl die MK-party begin taan en die EFF al hoe meer agteruitboer.
Die 10-uit-10 vertoning wat Manie Libbok Saterdag in Mbombela vir die Bokke opgedis het, het opnuut gewys hoeveel kopkrap die 10-trui nog vorentoe vir die Bokke se breintrust gaan veroorsaak. Ons gesels ook oor TonyBall, die speelstyl wat Tony Brown as aanvalsafrigter na die Bokke gebring het, en ons hoor wat Swys de Bruin tranerig maak sedert hy die vroue-Bokke begin afrig het.
’n Haai se groot bekentenis oor dáái omgekeerde bal. Die R7 miljoen-Curriebeker-geelwortel vir die Groot Vier... en natuurlik alles en nog meer oor Manie Libbok se mislukte stelskop. In dié week se Rapport Praat Sport wonder Hendrik Cronjé of dit nie dalk tyd is vir Manie om sy vlerke oorsee te sprei nie. Tinus van Staden en Jóhann Thormählen het verskillende idees oor hoe die Bokke dié losskakel Saterdag moet aanwend. Ons hoor ook wat Rassie Erasmus en Bongi Mbonambi oor Manie te sê het. En skuld jy vir Eben Etzebeth geld? Wees versigtig...
In dié week se Rapport Praat Sport onthul Rassie Erasmus ’n opwindende agterlyn-plan vir die tweede helfte van die toets teen Argentinië. Ons hoor ook hoekom hy ongelukkig was met Sacha Feinberg-Mngomezulu. Hendrik Cronjé, Tinus van Staden en Jóhann Thormählen praat ook Curriebeker-rugby, en ons beantwoord ’n paar vrae wat luisteraars ingestuur het. Hendrik gee ’n lusmakertjie oor ’n groot storie waaraan hy werk vir Sondag se Rapport, en Jóhann onthul met watter sportster hy dié week ’n onderhoud gaan voer.
Met politieke verhoudinge wat toenemend versuur is dit ‘n ope vraag oor wat met die burgemeesterstoel in Tshwane gaan gebeur. Tim du Plessis en Dawie Boonzaaier gesels ook oor wie die voorloper is na die veelbesproke debat tussen Amerika se presidensiële kandidate, Kamala Harris en Donald Trump.
Hendrik Cronjé is oortuig Argentinië se rekordsege oor Australië het Rassie Erasmus se planne so effens deurmekaar gekrap. Verwag dus ’n breker-Bomb Squad volgende naweek in Santiago. Hendrik, Tinus van Staden en Jóhann Thormählen probeer ook vasstel hóé die Bokke nóg ’n sege by die All Blacks weggestoei het; selfs al is daar meer by Suid-Afrika se afbreekpunte gesteel as uit die staatskas in die Zuma-jare. Ons wonder ook hoe die res van die wêreld dié Bok-span beskou, en vra sommer vir ’n Kiwi-joernalis om ons te vertel.
Fikile Mbalula, die ANC se sekretaris-generaal het sy hande vol om die SAKP- en Cosatu-perde op stal te hou. Tim du Plessis en Liezel de Lange gesels oor die spanning tussen die ANC en sy alliansievenote met die regerende party wat nuwe bondgenote in die regering van nasionale eenheid gevind het.
Hendrik Cronjé se molle laat weet: Siya Kolisi het vanoggend saam met die Bokke gesweet in Kaapstad. Maar gaan hy gereed wees om die All Blacks Saterdag in Kaapstad aan te durf? Luister en bespiegel saam met Hendrik, Tinus van Staden en Jóhann Thormählen oor hoe die span moontlik kan lyk. Is Jasper Wiese dalk ’n opsie op nr. 6? Ons praat ook oor die talle omstrede blasersbeslissings in die eerste toets op Ellispark, en hoor hoe ons Paralimpiese-atlete in Parys vaar.
Herman Mashaba se afkeer van die DA is so groot dat dit dreig om die hoofstad tot ’n val te bring, sê Tim du Plessis. Hy en Antoinette Slabbert deurtrap Cilliers Brink se toekoms en die jongste verwikkelinge in Tshwane.
Pap, lepel, sous en Pieter-Steph du Toit se gunsteling-kos is maar net enkele van die vele gesprekspunte in dié week se Rapport Praat Sport. Hendrik Cronjé doen ook ’n meesterklas-ontleding van die All Blacks se skopplan, en Rassie verklap wat die énigste wedstryd is waarvoor hy sy heel beste Bok-23-tal kies. Tinus van Staden praat ook ’n bietjie krieket, en Jóhann Thormählen gee raad oor watter Suid-Afrikaanse atlete om dop te hou op die Paralimpiese Spele.
Dit is asof die Protea-krieketspan deesdae die stiefkind van Suid-Afrikaanse sport is, selfs wanneer hulle wen. In dié week se Rapport Praat Sport, bespreek Tinus van Staden, Hendrik Cronjé en Jóhann Thormählen hierdie stand van sake. Ons wonder ook hardop wie Rassie Erasmus met die nr. 10-trui gaan toevertrou vir die toetse teen die All Blacks.
Julano King (18) was die hoofseun van die Paulus Joubert Sekondêre Skool in die Paarl. Hy is op 17 Julie dood nadat hy glo deur 'n familielid in die nek gesteek is. Julano was ’n rymkletser wat voor sy dood, die skool se derby-liedjie opgeneem het. Netwerk24
Tim du Plessis en Dawie Boonzaaier vra mekaar of ANC-leiers se pleidooie aan die privaatsektor eg is, of word iemand hier om ‘n NGV-bos gelei? En is Ronald Lamola ‘n nuwe windjie, of ‘n Ramaphosa 2.0?
Dis ’n gevoel wat Bok-fêns ongelukkig alte goed ken. ’n Reuse-oorwinning opgevolg deur ’n getjommel. Maar dié week kan dinge dalk net anders wees, ná ’n moontlike Rassie Erasmus-meesterskuif. Tinus van Staden, Hendrik Cronjé en Jóhann Thormählen is terug met nog ’n aflewering van Rapport Praat Sport, en bespiegel oor die redes agter Erasmus se laslappie-span. Ons kyk ook terug na die Olimpiese Spele, bespreek die korrelasie tussen sport en rook, en raak opgewonde oor Dricus du Plessis se groot geveg teen Israel Adesanya.
Tim du Plessis en Dawie Boonzaaier wonder of die miljoene rande se lekgotla’s, imbizo’s en dialoeë darem op iets sal uitloop; of Helen Zille meer gereeld moet mond uitspoel; en of Tim Walz dalk die Trump-troefkaart is?
Wat moet ons lees in Sacha Feinberg-Mngomezulu se insluiting op losskakel in die Springbok-beginspan vir die eerste Rugbykampioenskapstoets teen Australië? En wat hou die toekoms vir die Wêreldbeker-held Handré Pollard in? In dié week se Rapport Praat Sport, probeer Tinus van Staden, Hendrik Cronjé en Jóhann Thormählen om dié vrae te beantwoord. Ons raak ook filosofies oor Tatjana Smith se swem-ingesteldheid, en vereer Akani Simbine as Suid-Afrika se beste spoedvraat van alle tye (ja, selfs al was hy wéér die amper-man).
Dawie Boonzaaier en Tim du Plessis besin oor die politieke stories van die week.
Pres. Cyril Ramaphosa sê die regering maak werk van die aanbevelings van die Zondo-kommissie, maar is daar werklik politieke wil om dié turksvy te hanteer. En moet Gayton McKenzie liefs sy oog op die bal eerder as om immigrasiebeheer toe te pas by skoonheidskompetisies?
Die Olimpiese Spele is in volle swang, en die Suid-Afrikaners stel glad nie teleur nie. In dié week se Rapport Praat Sport, gesels Tinus van Staden met Hendrik Cronjé en Jóhann Thormählen oor Tatjana Smith se meesterklas in die swembad, die Blitsbokke se broekskeur-brons, en ons hoor ook van Philip Snyman, Selvyn Davids en Rosko Specman. En wat nog? O, ja! Hoe gaan Rassie maak op agtsteman en skrumskakel...
Durf jy hoop dat pres. Cyril Ramaphosa in sy laaste termyn fermer gaan optree teen dwarstrekkers wat vasskop teen sy hervormingsplanne? En kan MK die rol van die amptelike opposisie vervul? Dawie Boonzaaier en Tim du Plessis besin oor die politieke stories van die afgelope week.
Die B-Bokke was vyfster teen Portugal, en gelukkige Jan-Hendrik Wessels het die Vincent Koch-rekord vrygespring. In dié week se Rapport Praat Sport, gesels Tinus van Staden met Hendrik Cronjé en Jóhann Thormählen oor Rassie Erasmus se oog vir talent. John Dobson sê Sacha Feinberg-Mngomezulu is perfek, en Ricardo Louscher meen Krappies van den Berg kan nog báie toetse speel. En die opvolger vir Pieter-Steph du Toit is… ’n man met ’n ingenieursgraad.
Die bloed het geloop, die bier het gevloei en Ierland het hul pad tot ’n 1-1-uitslag in Durban oop-geskepskop. Tinus van Staden, Hendrik Cronjé en Jóhann Thormählen gesels oor ’n toetsreeks uit die boeke, die mite van driedruk-rugby, die aard van sosialemedia-trolle, pap wiele, dubbeldoor-derduiwels en die volgende geslag sterre. Ons hoor ook wat sê Rassie Erasmus oor bitterpille in bekke, en kry die mening van Murray Kinsella, ’n Ierse joernalis, oor (eerbiedige) Bok-fêns.
Des Rohde, bestuurder: SAVF Die Anker, vertel aan Quinton Lourens, Netwerk24-joernalis, meer oor die brand by die tehuis in Germiston waarin een inwoner dood is. Netwerk24
Ierse skelmstreke in die skrums, ’n splinternuwe Bok-aanval... en ’n Ierse gekerm oor Coldplay. Tinus van Staden praat met Hendrik Cronjé en Jóhann Thormählen oor die talle brandpunte ná die slag van Loftus, en kyk vorentoe na Saterdag se tweede toets tussen Suid-Afrika en Ierland in Durban.
Dit is die stemboodskap waarin beweer word dat Peter Jaggers ontvoer is na Suid-Amerika toe. Netwerk24
Cecilia Steyn, die meesterbrein agter die Krugersdorp-reeksmoorde, praat in 'n uitgelekte stemnota oor Le Roux Steyn, een van haar volgelinge, se lewersiekte. Le Roux, wat as staatsgetuie teen Cecilia getuig het, dien 'n vonnis van 25 jaar uit nadat hy in Mei 2018 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Cecila dien 13 keer lewenslange vonnis uit vir die moorde op 11 mense tussen 2012 en 2016. Netwerk24
Nog ‘n dag, nog ‘n groep Kiwi’s afgeslag. . . en nou skram niemand meer weg van praatjies oor ‘n Wêreldbeker-dubbel vir Suid-Afrika se rugby- en kriekethelde nie. So hoe voel die Proteas self? Hulle het lesse geleer uit hul eie én die Springbokke se onlangse naelskraap-seges, sê Rapport se sportredakteur, Tinus van Staden, en verwelkom die druk wat kom saam met Suid-Afrika se groot verwagtinge.
Rapport se rugbyskrywer Hendrik Cronjé was die afgelope week aan die voorpunt van die beriggewing oor die onsmaaklike rasbewerings teen die Bok-haker Bongi Mbonambi. Hy meen dit was “ ‘n hartseer week vir rugby” en een waaroor sowel die Engelse Rugbyunie as Wêreldrugby bloedrooi moet bloos.
Die Wêreldbeker-toernooi het reeds sakke vol hoogtepunte vir Suid-Afrika opgelewer – maar daar is een groot bron van kommer: die boulers se onvermoë om die spreekwoordelike stert af te kap. Altesaam 51% van die lopies teen Suid-Afrika is aangeteken wanneer die stertkant-kolwers voor die penne was. Rapport se sportredakteur, Tinus van Staden, bespreek moontlike redes daarvoor.
Vier jaar gelede het hulle Engeland gefop met die bekende ‘The Move’, en laasweek die Franse onkant gevang met ‘n skrum van ‘n merk en danspassies voor ‘n tikskop. In hul Wêreldbeker-herontmoeting Saterdag met die Engelse sal daar beslis weer ‘n truuk of twee wees – vraag is net wat.
Die Protea-kolwer Rassie van der Dussen het nou wel Dinsdag in die skok-nederlaag teen Nederland sy paaltjie met ‘n omgekeerde veeghou verloor – maar moet vir geen oomblik dink dit maak hom skrikkerig om dit aan te hou probeer nie.
Die Franse Hane het toestemming gevra dat Antoine Dupont die naweek in hul WB-kwarteindstryd teen die Springbokke in 'n spesiale skrumpet en masker speel - 'n proses wat gewoonlik maande vat, maar dalk net vir Frankryk se goue seun bespoedig kan word. En in Lucknow in Indië wag 'n Australiese span wat lanklaas op alle suiers gevuur het op 'n Protea-groep wat hul WB-veldtog met 'n groot knal begin het - en sommer nog baie ruimte vir verbetering het.
Jacques Nienaber en Rassie Erasmus sal eers ná die toets teen Tonga besluit hoe hulle gaan maak met hul losskakel-vraagstuk. Kan ’n goeie vertoning aan Handré Pollard die nr. 10-trui besorg vir die kwarteindronde? Of gaan hy die plaasvervangersbank warm hou en eers later in wedstryde vir Manie Libbok vervang. Hendrik verklap ook ’n paar “oefenveldgeheime”.
Jacques Nienaber en Rassie Erasmus het die rugbywêreld Dinsdagaand geskok met die insluiting van sewe voorspelers en net een agterspeler op hul plaasvervangersbank vir die Wêreldbeker-toets teen Ierland Saterdag in Parys. Hendrik Cronjé en Tinus van Staden ontleed dié taktiek, en bespreek ook redes vir die weglating van Willie le Roux en Duane Vermeulen.
Die Bokke het 'n potensiële piesangskil vermy deur Skotland met 18-3 in hul Wêreldbeker-openingswedstryd te klop. Rapport se Hendrik Cronjé, wat die skouspel vir Netwerk24 dek, ontleed dié wedstryd en sê wat hý reken van die spanveranderinge teen Roemenië kan wees. Marco van Staden en Kwagga Smith kan byvoorbeeld die kantmanne wees.
Die Bokke het 'n paar kopkrap-keuses voor hul Wêreldbeker-openingstoets teen Skotland Sondag in Marseille.
Stemboodskappe wat Santha Vermaas, 'n Pretoriase kunstenaar, aan een van haar vermeende slagoffers gestuur het nadat die vrou vrae begin vra het oor geld wat sy betaal het vir goedere wat sy glo nie ontvang het nie. Netwerk24
John Steenhuisen, leier van die DA, het Maandag sy medelye oor die dood van Tina Joemat-Pettersson, voormalige minister van energie, ANC-LP en voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor polisie, uitgespreek. Netwerk24
In hierdie episode ondersoek Cheréne en dr. Adè die wetenskap agter menstruasie en bespreek hoe om dit makliker te maak om te bestuur. Instagram · Facebook
In hierdie episode bespreek Cheréne en dr. Adè Forsyth-Thompson die belangrikheid van geestesgesondheid en strategieë om dit te verbeter. Instagram · Facebook
Dr. Adè Forsyth-Thompson sal die truuks en feite oor aknee bespreek om jou te help om dit beter te verstaan sodat jy dit beter kan bestuur. Instagram · Facebook
In hierdie podsending se episode bespreek Cheréne en dr. Adè Forsyth-Thompson die wenke en truuks om jou te help om jou eksamenstres te bestuur. Instagram · Facebook
In die eerste episode gee Cheréne Pienaar, Die Student se redakteur, met behulp van dr. Adè Forsyth-Thompson, voormalige Mej. Suid-Afrika en spesialis-dokter, jou die gereedskap om jou te help om selfvertroue en sukses in jou 20’s te vind. Hulle bespreek strategieë om uitdagings te navigeer en maniere om jou 20’s ’n tyd van floreer te maak. Instagram · Facebook
Die A-Z van Gesondheid met dr. Adè bespreek al die belangrike onderwerpe wat met gesondheid in jou 20’s verband hou: Van dieet en oefening tot geestesgesondheid en jou menstruasie se siklus. Dr. Adè Forsyth-Thompson, voormalige Mej. Suid-Afrika en spesialis-dokter, bespreek slim wenke om in elke aspek van jou lewe te floreer. Instagram · Facebook
’n Telefoongesprek tussen twee likwidateurs enkele dae ná die koelbloedige moorde op die bekende likwidateur Cloete Murray, en sy seun Thomas, maak wyd opslae.
Karen Keevy, wat vandeesweek as mededirekteur van Commonwealth Trust in Alberton bedank het, beweer in die gesprek met Johan Engelbrecht hulle het almal geweet “dis net ’n kwessie van tyd” voordat iemand vir Cloete Murray leed sou aandoen. Netwerk24
Thapelo Mogale, ANC-LP, het tydens Dinsdag se sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor hoër onderwys, wetenskap en innovering gesê hy vind dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP, se uitlatings aanstootlik. Video: YouTube/ParliamentofRSA Netwerk24
Dennis Delport berig daar is tans grootskaalse verkeersontwrigting op die N3 tussen Durban en Pietermaritzburg.
Netwerk24-joernalis, Dennis Delport, doen regstreeks verslag uit Nkandla soos die Zuma-saak ontvou.
’n Ambulans het pas by die hoofhek na die Nkandla-woonkompleks opgedaag, maar die dansende Zuma-ondersteuners weier om pad te gee en die ambulans te laat ingaan. Netwerk24-joernalis, Dennis Delport, doen regstreeks verslag uit Nkandla soos die Zuma-saak ontvou.
Só dans en sing ondersteuners nou voor Zuma se Nkandla-huis. Dennis Delport vertel op die toneel.
'n Standbeeld van Diana, ontslape prinses van Britanje word op wat haar 60ste verjaardag sou wees in die gesonke tuin van Kensingtonpaleis in London onthul. Haar twee seuns, Prins William en Prins Harry het in 2017 opdrag vir die standbeeld gegee - toe hulle nog met mekaar gepraat het. Koninklike waarnemers soos Netwerk24 se Arlene Prinsloo, hoop dat die onthulling die twee broers daaraan sal herinner dat hulle ma wou hê hulle moet beste vriende bly.
'n Groot Suid-Afrikaanse vlag het tien jaar gelede langs die pad gepryk waar Engeland se Prins William en sy nuwe bruid, duisende mense gegroet het. Netwerk24 se eie Arlene Prinsloo het die vlag daardie dag in Londen laat wapper.
'n Statige begrafnisdiens gestroop van oordaad is hoe Prins Philip van Brittanje se afskeid beskryf word. Desondanks was dit steeds 'n afskeid waarin simboliek 'n groot rol gespeel het, vertel Arlene Prinsloo van Netwerk24 wat regstreeks daaroor verslag gedoen het.
Koninklike protokol en tradisie moet die knie voor Covid-19-regulasies buig met die begrafnisdiens van Brittanje se prins Philip Saterdag. Is dié anderster begrafnis dalk tekenend van nog veranderinge wat vir die koningsgesin voorlê? Arlene Prinsloo, 'n webredakteur van Netwerk24, gee haar mening.
Die dood van prof. Christof Heyns het nie net as as ‘n skok gekom vir vriende en familie nie, maar ook vir talle mense in akademiese- en regskringe. Linda van Tilburg, oud TV-joernalis, het hierdie onderhoud in Oktober verlede jaar met hom gevoer nadat hy besluit het om hom nie weer beskikbaar te stel as lid van die Verenigde Nasies se Menseregte-komitee nie hoewel die regering wou gehad het hy moes vir nog ‘n termyn dien. Heyns was die afgelope dekade instrumenteel in die herskryf van internasionale protokolle oor menseregte, eers as ‘n spesiale rapporteur van die VN en die afgelope vier jaar as ‘n lid van die Menseregte-komitee. Hy was as ‘n spesiale rapporteur oor buitegeregtelike, summiere en arbitrêre teregstellings lid van ‘n span wat die Minnesota Protokol herskryf het. Dié ervaring het hom in staat gestel om protokolle te verander wat tot ‘n beter ondersoek kon gelei het na die moord op sy pa, prof. Johan Heyns voormalige moderator van die NG Kerk. Sy pa is op die aand van Guy Fawkes-dag in 1994 deur ‘n sluipmoordenaar doodgeskiet. Sy moordenaar is nooit gevind nie. Heyns het in die onderhoud vertel van sy werk as ‘n internasionale menseregtekenner wat meegebring het dat hy by by verskeie internasionale universiteite klas gegee het, hoe hy die bekende menseregte-prokureur Amal Clooney ontmoet het, die land waarin hy verbied is om ooit weer sy voete te sit, wat hy van sy pa se onopgesloste moord en die toekoms van menseregte in die wêreld dink.
Chase Rhys is ’n dramaturg, skrywer en performance-kunstenaar. Vir sy debuut-toneelstuk Kinnes, ’n verhaal oor jong mense van die Kaapse Vlakte, word hy vereer met die Adam en Rosalie Small-prys in 2017. Kinnes is sedertdien as roman uitgegee en bekroon met die kykNET-Rapport-prys sowel as die Suid-Afrikaanse Letterkundeprys. Chase is medestigter van Borderlands, ’n projek wat kuns gebruik om ruimtes te skep waarin mense van gesegregeerde gemeenskappe in die Kaap bymekaar kan kom. Azille Coetzee gesels met Chase oor verteenwoordiging in letterkunde, oor kuns, queer-identiteit en feminisme.
Kabous Meiring is dokumentêre filmregisseur, meningsvormer, en televisieaanbieder, onder meer. Verskillende mense rondom die tafel gaan sit om moeilike gesprekke te hê, of van Mega boere, ’n televisieprogram waarin sy deur die land reis om met boere te gesels oor die uitdagings van ons tye. Kabous is bekend om reguit praat, maar ook om haar vermoë om met mense te connect en hul stories die lig te laat sien. Azille Coetzee praat vandag met Kabous oor die borrels waarin ons leef, die woke-kultuur, plaasmoorde, Black Lives Matter en Afrikanerskap.
Dana Snyman is ’n geliefde en bekroonde skrywer, joernalis en dramaturg. Hy is ’n reisiger en storieverteller. Hy staan bekend vir die deernis waarmee hy mense en hul verhale uitbeeld, sy vermoë om die besondersheid en vreemdheid van die alledaagse te laat sien, en die eerlikheid waarmee hy sy eie gedagtewêreld blootlê. Azille Coetzee gesels met Dana oor generasiegapings, wit Afrikanerskap, nostalgie en Afrika.
Mercy Kannemeyer is teatermaker, regisseur, en skrywer. Sy is in 2017 deur die Afrikaanse Taalraad vereer met ? Kokerprys vir haar dokumentêr, Die ander kant, waarin sy vra wat ons kan verloor as Afrikaans as onderrigtaal by Stellenbosch Universiteit afgeskaf word. Sy word gereken as een van Afrikaans se opwindendste opkomende teatermakers en het al verskeie toneelstukke op die planke gebring – onder andere Ons is nie almal so nie, ’n verwerking van Jeanne Goosen se bekende boek. Azille Coetzee gesels met haar oor identiteitspolitiek en deernis, oor haar liefde vir Afrikaans, haar stryd vir moedertaalonderrig en haar ervaring van millenniër wees.
Magdaleen Krüger, hoof van Radio Sonder Grense, het op Spektrum, dié radiostasie se middagaktualiteitsprogram, gesê dit is fopnuus dat Afrikaans bedreig word deur herstrukturering by die SAUK.
Ronelda Kamfer is die bekroonde skrywer van vier digbundels, wat in verskeie tale vertaal is, en Nathan Trantraal is ’n comic-boekkunstenaar, rubriekskrywer, draaiboekskrywer en digter. Hy het al ’n paar grafiese romans geskryf en drie bekroonde digbundels. Hulle is getroud en tussen hulle het hulle al die meeste van die belangrike literêre pryse in Suid-Afrika ingepalm. Azille Coetzee gesels met hulle oor hul liefdesverhouding en huishouding, die geïnstitusionaliseerde rassisme en seksisme in die Afrikaanse literêre establishment, die rol van kuns, en dan lees hulle elkeen ’n liefdesgedig (opgedra aan mekaar) uit hul nuutste bundels, Chinatown en Oolog.
Marita van der Vyver is een van ons mees geliefde Afrikaanse skrywers wat in 1992 nasionaal én internasionaal opspraak gemaak het met haar roman Griet skryf ’n sprokie. In Griet skryf Marita openlik oor seks, en plaas sy vroulike begeerte in die middel van die storie, iets wat daardie tyd nog nooit in Afrikaans gedoen is nie. Sedertdien het sy ’n heeltydse en veelsydige skrywer vir alle ouderdomme geword. Vandag woon Marita in ’n klein dorpie in die suide van Frankryk saam met haar Franse man en hul kinders. Haar nuwe boek Grensgeval gaan weer oor ’n sensitiewe onderwerp in ons kultuur – die grensoorlog. Azille Coetzee gesels met Marita oor seks (natuurlik), feminisme, emigrasie, en die dinge wat spook in die Afrikaner psige.