Volgens Doon was dit liefde met die eerste oogopslag. Hy kon net nie ophou kyk na die beeldskone Nina nie. Elke week in 'n ander ontwerpersuitrusting. Soms net in haar onderklere. Doon besef die tyd is nou ryp om vir Nina sy huis te gaan wys, maar om dit te kan doen, moet Hendri saam. As hy nie saamgaan nie, kan hy gaan klik. En dan gaan die hel losbars. Maar wie is die geheimsinnige Nina en wat weet Hendri wat ons nie mag weet nie?
Clinton V. du Plessis, 'n syfersmid van Cradock, is een van ons mees onderskatte digters. 'n Digter wat die lot van die gewone man en vrou op toeganklike en deernisvolle wyse verwoord. Die bundel, Verslag, word deur die dikwels miskende digter as sy swanesang beskryf nadat hy vier dekades gelede met 'n vers in die tydskrif, Patrys, gedebuteer het. Luister na van die mooiste gedigte uit Du Plessis se oeuvre, en veral uit hierdie tiende bundel, voorgelees deur Dean Balie en Cantona James. Kom vind ook meer uit oor hierdie "onderskatte voetsoldaat van die Afrikaanse lettere": die kronkelende lewenspad, die amper uitgebrande kers, die spoorlyn, die doringdraad, die gebreekte glasbottel en uiteindelik die volledige katastrofie van die lewe.
Die veelsydige en veelbekroonde Dolf van Niekerk het vanjaar 90 jaar oud geword. Die stukke van die legkaart van sy lewe sluit onder meer sy loopbaan as omroeper en radiodramaturg in; sy loopbaan in die Departement van Landbou; sy doktorsgraad in die filosofie, en as voorloper en vernuwer in die letterkunde, is hy deel van die Sestigers. Uit sy pen verskyn poësie, prosa en drama. Onlangs is sy jeugherinneringe in 'n bundel vervat met die titel Legkaart van 'n jong lewe wat die kort huldigingsprogram geïnspireer het. Kom “luisterkuier” na voorlesings en vertellings oor van die invloede en indrukke wat die legkaart van sy lewe vorm.
Jana bied ekstra klasse vir 'n leerder aan. Die onderwys is 'n roeping en onderwysers maak groot opofferings. Hulle motiveer en inspireer. Maar soms is dit wat 'n onderwyseres kan bied, nie goed genoeg nie. En dan tuimel die hele kaartehuis ineen.
'n Sweefstokarties maak gereed vir sy heel laaste optrede. Karl was die land se heel voorste en gewildste kunstenaar in hierdie ysere dissipline. Tot tien jaar gelede... Vandag probeer hy weer dieselfde toertjie, sowat twintig meter bokant die grond en sonder 'n net. Hy word egter kort voor sy optrede deur iemand besoek wat hom met sy verlede konfronteer.
Daar is haas geen mens op Aarde wat nie die verhaal van Adam en Eva iewers in hulle lewens al gehoor of gelees het nie. Die basiese verhaal soos dit in die Bybel opgeteken is, is dat God Adam eerste geskape het, en Eva daarna uit 'n rib van Adam gevorm het terwyl Adam in 'n diepe slaap verkeer het. God het aan Adam en Eva die vryheid gegee om van alles in die Tuin van Eden, die Paradys, te eet, behalwe van die Boom van Kennis van Goed en Kwaad. Die Slang, of Satan soos dit welbekend is, het egter uit sy pad gegaan om die salige bestaan van die eerste man en vrou op aarde te verongeluk deur Eva te mislei om van die verbode vrug van die boom in die middel van die tuin te eet. Die res is, om die cliche te gebruik, geskiedenis. Joe Kleinhans se verhaal volg wel die breë skeppingsmite van die eerste mense op Aarde, maar met 'n bietjie humor en anachronistiese kinkels daarby: Eva sit op Adam se kop en sy boer met haar neus in perkamentrolle wat net deur mans geskryf is. Iets wat haar dwars in die krop steek. Sy sou graag meer opwinding wou beleef, maar die kreatuur wat homself Adam noem, wil net hê sy moet gaan vrugte pluk en water haal. En boonop is hy 'n vrot vryer. Die wyse Uil probeer die saak beredder, want hy is deeglik bewus van die opdrag dat Adam en Eva, soos al God se skepsele, moet vrugbaar wees en vermeerder. Maar daar's 'n uiters flambojante, romantiese vent wat by Eva vlerksleep en alles in sy vermoë doen om haar te verlei... Om alles te kroon, is daar groot ongelukkigheid onder die diere vir die onsensitiewe name wat sommige van hulle van die einste Adam gekry het.
Ou suster Anna was 'n onkantige ent mens gewees en dan't sy pebliek 'n snôr onner haar neus gehad – 'n pikswarte. Die ou Skot Mister Miknemara is bedlêend en sorg eendag dat ou suster Anna sowaar 'n glimlag onner daai snôr kry.
Sonja werk al vir agt jaar lank in Potchefstroom se gastehuise. Haar ouers dink sy swot met prestasiebeurse, en stuur steeds elke maand sakgeld. Volgens haar studeer sy menslike bewegingskunde. Daar is baie dinge wat sy vir haarself hou. Tot sy saam met iemand in 'n gastehuis begin drink... Toe begin sy praat. Slegs vir volwassenes.
Hermaans Askies word deur die blondekop vrouedoktertjie versoek om hom tot op sy “menslikheid” uit te trek. En toe word hy skielik gevra om die laken te laat sak... Wat nou?
Johan Rademan gesels met die digter Lina Spies oor haar liefde vir katte. Die akteur en voorleser Nic de Jager sit saam om met voorlesings om die tafel haar werke in te kleur. Lina Spies is op 6 Maart 1939 - die jaar waarin die Tweede Wêreldoorlog begin het, gebore. Haar liefde vir katte is alombekend, maar 'n sekere siklus en sluiting oor die naamgewing van haar katte is nou voltooi. Die naam slaan reguit terug uit haar eerste digbundel, Digby Vergenoeg, wat in 1971 verskyn het uit die vers Vir Anne Frank van de Achterhuis in die strofe, “weer moes Peter maar vir Mouschi streel.” Lina Spies het vanjaar haar 80ste verjaardag gevier.
Barend ontmoet iemand deur die gewilde toep Tinder en nooi haar na sy hotelkamer vir 'n diskrete afspraak. Dit is nie iets wat jy van Barend sou verwag nie. Inteendeel, van Barend word net die beste verwag. Sy hele lewe lank het hy die samelewing se verwagtings van hom oortref. Maar gaan die aand verloop soos hy dit beplan het? 'n Teer drama met 'n roerende wending. Slegs vir volwassenes.
'n Span kreatiewes draf met 'n skêr en gom deur die digkuns. Soos die versreëls uitmekaar waai, word daar opnuut met die woord gewals en nuut geskep. En soos van die groot Beat-digters en selfs Kurt Cobain van Nirvana-faam ontdek het, kan 'n mens met hierdie klas versnippering 'n ieder en 'n elk verras. Van Bertolt Brecht en R.K. Belcher se moppies tot DJ Opperman, Rumi en selfs Pablo Neruda beland in hierdie bredie.
Tobias Jurgens Cronje vier in November vanjaar sy 70ste verjaardag. Hy het drama aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Sy professionele loopbaan het in 1972 begin in die Truk-produksie van The Fantastics. Na meer as vier dekades in die bedryf, word hy steeds onthou vir rolle soos die van Willem, in die gelyknamige TV-reeks. Hy was ook te sien in flieks soos Kootjie Emmer en Babbelkous en Bruidegom, terwyl hy op die verhoog bekend is om sy talle “dames” in Janice Honeyman se jaarlikse pantomimes. Saam met sy vriendin en die aktrise Grethe Fox en die regisseur Andre Stolz, kuier die drie saam om Tobie se lewe en loopbaan te vier.
Kitty Maritz gaan konfronteer burgemeester Stefaans Steyn oor die dorp se elektrisiteitsprobleem en verskeie eenhede krag wat maandeliks spoorloos verdwyn. Stefaans hou egter nie met Kitty se slim planne tred nie. En voordat hy sy oë uitvee, verras Kitty hom met iets wat heeltemal die wind uit sy seile neem. Of dalk nie?
Ouma Marais is aan haar bed en rolstoel gekluister. Naby Stilbaai-Wes, hoog tussen die digbegroeide duine, sit Ouma Marais se huis met die wye vensters sodat sy vêr kan uitkyk oor die kalkpaadjies, taaibos, roesbruin rotse en die see. Dan merk sy 'n vreemde man op die strand, en por haar kleindogter, Engela, aan om te gaan ondersoek instel.
'n Huldigingsprogram oor die digter en aktrise Wilma Stockenström wat op 7 Augustus vanjaar 85 jaar oud geword het. Sy word allerweë bestempel as een van die grootste stemme ná die Sestigers, en is een van 'n handjievol skrywers wat die Hertzogprys in twee genres ontvang het. Die program fokus op voorlesings uit die digbundel, Van Vergetelheid en van Glans en die roman Abjater wat so lag - die werke waarvoor sy met die Hertzogprys bekroon is. Stockenström kan self ook gehoor word in materiaal uit die SAUK se klankargief.
W.A. de Klerk sou vanjaar 100 jaar oud gewees het. Die hoorbeeld is 'n viering van die veelkantige vakman se werk. Dis 'n herontdekking van 'n woordsmid by uitstek. De Klerk was radioman, advokaat en skrywer. Toe die skryfgogga hom beetpak, het hy besef advokaatwees en skrywerskap is wedersyds uitsluitend en hy het hom op sy plaas Saffier naby die Paarl gaan vestig waar hy 'n vrugtekweker was. De Klerk was 'n veelsydige skrywer en het jeugverhale, reisverhale, essays, romans en dramas geskryf.
Die Amerikaanse dramaturg Thornton Wilder se Our Town is vanjaar 80 jaar oud en is in 1938 met die Pulitzer-prys vir Drama bekroon. Die immergroen verhaal handel oor die mense van Grover's Corners in New Hampshire. Die luisteraars volg die Gibbs- en Webb-gesinne oor 'n tydperk van twaalf jaar; deur hul alledaagse lewe, liefde en trou tot en met die dood en ewigheid. Deur die geliefdes Emily en George, hul sterk en liefdevolle ouers asook die vele ander plaaslike mense lewer Wilder universele waarhede oor wat dit is om mens te wees. Propvol humor en spitsvondigheid is Ons dorp steeds een van die mees opgevoerde, tydlose en klassieke verhoogdramas.
“Die wenboek van vanjaar se kykNET-Rapportprys vir fiksie is 'n verhaal wat oor baie dinge gaan. Een daarvan is taal en verlange, hoe die taal Afrikaans self 'n uitdrukking word van 'n verlange wat in sy wese onvervulbaar is, en die boek 'n liefdesbrief van ver af, sonder adres. Die onheelbare pyn van 'n vader wat nie van sy seun gehou het nie is miskien die gravitasiekolk, die black hole in die boek waarheen alles neig, maar van waar geen lig kan kom nie.” 'n Nuwe werk deur wyle Ryk Hattingh; sy eerste in negentien jaar. Helder en poëties en tegelyk liries en wys, en meedoënloos eerlik.
'n Anderse staar in die vreemde. Hierdie verhale is nie eintlik spookstories nie, maar het 'n geskiedkundige grondslag. Dit verken Suid-Afrikaanse gebeure en mense in 'n vermenging van woorde, stem en klank. Gebeure soos die Laingsburg-vloed, die eerste hartoorplanting, die gifmoordenares Daisy de Melker asook die vrou wie se lyk regoor Johannesburg in stukke gevind is, word vertel. Die onsigbares is geskryf deur Krisjan Fourie en word meesterlik voorgelees deur Nic de Jager met die sinistere sout-en-peper-klanklandskap van Paul Riekert (van Battery 9-faam).
Hermaans Askies word deur die blondekop vrouedoktertjie versoek om hom tot op sy “menslikheid” uit te trek. En toe word hy skielik gevra om die laken te laat sak... Wat nou?
Twee broers het weens 'n familietwis vir 23 jaar lank nie kontak met mekaar gehad nie. Die oudste broer het ernstig siek geword en op sy sterfbed vra die gesinsdokter hom of hy die jonger broer moet ontbied om te kom afskeid neem, maar die koerante het 'n berig geplaas waarin gemeld is dat die jonger broer 'n belangrike prys in Swede sou ontvang. Gevolglik wou die ouer broer nie inbreuk maak op sy kleinboet se prestasie nie. Die jonger broer daag egter skielik op omdat hy skynbaar iewers van sy ouboet se siekte gehoor het. Of het hy dalk op 'n gans ánder voorgevoel gereageer?
'n Vredeliewende sakeman verpas die laataandtrein. Hy gaan sit en wag in 'n deurnagkafee vir die volgende oggend se trein. Hier ontmoet hy 'n ouer man wat hom beïndruk met sy fyn waarnemingsvermoë en liefde vir die lewe. Die sakeman is verras met wat die man alles raaksien, totdat die man iets oor homself onthul...
Ou suster Anna was 'n onkantige ent mens gewees en dan't sy pebliek 'n snôr onner haar neus gehad – 'n pikswarte. Die ou Skot Mister Miknemara is bedlêend en sorg eendag dat ou suster Anna sowaar 'n glimlag onner daai snôr kry.
'n Anderse staar in die vreemde. Hierdie verhale is nie eintlik spookstories nie, maar het 'n geskiedkundige grondslag. Dit verken Suid-Afrikaanse gebeure en mense in 'n vermenging van woorde, stem en klank. Gebeure soos die Laingsburg-vloed, die eerste hartoorplanting, die gifmoordenares Daisy de Melker asook die vrou wie se lyk regoor Johannesburg in stukke gevind is, word vertel. Die onsigbares is geskryf deur Krisjan Fourie en word meesterlik voorgelees deur Nic de Jager met die sinistere sout-en-peper-klanklandskap van Paul Riekert (van Battery 9-faam).
Frank skakel die telefoondiens wat die korrekte tyd aandui, maar herken dadelik die vrouestem aan die ander kant van die lyn. Dis sy oorlede vrou, Gladys! Hy besluit om die gebou wat hierdie diens lewer, binne te vaar en te eis dat die Owerhede sy vrou vrylaat.
Ou Lettie Ingelbrê kon nou vir jou geskinner 't! Dis nou een swak wat die ou siel gehad 't wat sy net nie ontslae van kan geraak 't nie. Totdat die gemeenskap 'n plan beraam om haar in die bek te ruk…
Kyk saam met Kirby van der Merwe en digters soos Martjie Bosman, Sipho Sepamla, C. Louis Leipoldt, Andries Bezuidenhout, Motshile Nthodi, Jolyn Phillips, Dan Roodt, D.J. Opperman, Johan Myburg en N.P. Van Wyk Louw deur die glaspanele, deur die ruite na binne en vanuit die verseëlde vertoonkas na buite deur die spieël in 'n raaisel.
Selde is daar al so eerlik, met 'n totale afwesigheid van sentimentaliteit, geskryf oor die oudwordproses. Alles geteken in ryke detail en met die kenmerkende woordvaardigheid van een van Afrikaans se mees gevierde skrywers. Spertyd, voltooi in Elsa Joubert se 95ste lewensjaar, is 'n merkwaardige werk wat geen luisteraar onaangeraak sal laat nie. Luister na uittreksels uit hierdie splinternuwe werk.
'n Jong meisie se tante lê op sterwe. Tydens een van haar talle besoeke aan die sterwende vrou, word sy gevra om 'n rooi vaas uit 'n kas te haal. Dit is die mooiste vaas wat sy nog in haar lewe gesien het en sy ontwikkel 'n obsessie om die vaas ná haar tante se afsterwe te besit. Maar hoe moet sy te werk gaan om haar tante te oorreed om die vaas aan haar te bemaak, sonder om blatant daarom te vra? Nadat sy egter die verhaal oor die oorsprong van die vaas gehoor het, verkeer sy in 'n ernstige gewentenswroeging. Enersyds is die vaas ál waaraan sy kan dink en kan sy letterlik nie wág vir haar tante se afsterwe nie, maar terselfdertyd voel sy diep skuldig oor haar obsessiewe gedrag. Uiteindelik het die noodlot bepaal wat met die vaas gebeur. Of was dit dalk nie...?
Die internasionaal bekroonde digter en romansier Marlene van Niekerk in gesprek met die aktrise Susanne Beyers oor haar dubbeldoor-digbundels wat vroeg in 2018 deur Human & Rousseau gepubliseer word. Van Niekerk lees vir die eerste keer en eksklusief uit haar bundels In die stille agterkamer: Gedigte by die skilderye van Jan Mankes 1889-1920 asook Gesant van die mispels: Gedigte by die skilderye van Adriaen Coorte ca. 1659-1707 voor. Volgens wyle Henning Snyman is die bundels 'n “poëtiese en grammatikale kragtoer”, en 'n “ryke aanwins tot die Afrikaanse digkuns en kunsbeskouing”.
'n Anderse staar in die vreemde. Hierdie verhale is nie eintlik spookstories nie, maar het 'n geskiedkundige grondslag. Dit verken Suid-Afrikaanse gebeure en mense in 'n vermenging van woorde, stem en klank. Gebeure soos die Laingsburg-vloed, die eerste hartoorplanting, die gifmoordenares Daisy de Melker asook die vrou wie se lyk regoor Johannesburg in stukke gevind is, word vertel. Die onsigbares is geskryf deur Krisjan Fourie en word meesterlik voorgelees deur Nic de Jager met die sinistere sout-en-peper-klanklandskap van Paul Riekert (van Battery 9-faam).
Selde is daar al so eerlik, met 'n totale afwesigheid van sentimentaliteit, geskryf oor die oudwordproses. Alles geteken in ryke detail en met die kenmerkende woordvaardigheid van een van Afrikaans se mees gevierde skrywers. Spertyd, voltooi in Elsa Joubert se 95ste lewensjaar, is 'n merkwaardige werk wat geen luisteraar onaangeraak sal laat nie. Luister na uittreksels uit hierdie splinternuwe werk.
'n Boer ontbied die polisie een Saterdagaand na sy plaas om van sy plaaswerkers te kom arresteer. Naas 'n klag van rusverstoring, lê hy ook klagte van brandstigting en moord. Die jong ondersoekbeampte wat aangewys word om na bewyse in die voormalige bywonershuisie te gaan soek, spandeer 'n hele nag daar en ondersoek die inhoud van die huis nie minder nie as drie keer. Sonder om enige bewyse van moord of brandstigting te vind. Hy moet sy bevinding aan die staatsaanklaer verduidelik, en maak 'n verrassende onthulling.
'n Boer ontdek dat een van sy bye weggeraak het. Sy seun word dadelik aangesê om die by te gaan soek. Maar dit is nie sommer só 'n soektog nie! Spekskiet is altyd prettig. In hierdie sprokie word vertel van bye wat gebrandmerk word en implemente kan trek, tot hane wat eiers lê en skotskarre trek!
“Vir al wat ek weet, is daar darem 'n paar prekkeers innie hemel ook.” Die klein donkerkop Viljee'tjie was 'n “oorlams mannetjie” en die dorp se prokureur, maar in die hierdie verhaal vang Slim toe heel onverhoeds sy baas!
'n Anderse staar in die vreemde. Hierdie verhale is nie eintlik spookstories nie, maar het 'n geskiedkundige grondslag. Dit verken Suid-Afrikaanse gebeure en mense in 'n vermenging van woorde, stem en klank. Gebeure soos die Laingsburg-vloed, die eerste hartoorplanting, die gifmoordenares Daisy de Melker asook die vrou wie se lyk regoor Johannesburg in stukke gevind is, word vertel. Die onsigbares is geskryf deur Krisjan Fourie en word meesterlik voorgelees deur Nic de Jager met die sinistere sout-en-peper-klanklandskap van Paul Riekert (van Battery 9-faam).
Geïnspireer deur die Baron von Münchhausen-sprokie, Die bont by raak weg (Uit: Die mooiste Afrikaanse sprokies, vertaal deur Pieter W. Grobbelaar) handel die verhaal oor 'n boer wat na 'n verlore by gaan soek. Die gegewe is op die eerste vlak ietwat absurd en klugtig, want hoe sal 'n mens in die eerste plek besef dat een by uit 'n hele korf nie meer op jou plaas is nie?
Met Emo Adams, Schalk Bezuidenhout & Lindie Stander. Hierdie gedugte driemanskap, onder leiding van die bekkige Johan Rademan, sit die lag in Vrydag. Dit is komedie sonder grense en 'n nuwe konsep om 'n stortvloed van lagbuie te verseker. Sal die mikrofone en die luisteraars se ore hierdie komiese klets kan hanteer.
Die komponis en operasanger Geo Höhn se klankbane word as “epies” bestempel. In hierdie RSG-opdragwerk verken hy “grond” en wat dit vir mense beteken.
'n Spesiale versprogram waarin gedigte oor landskappe, taal en verganklikheid gehoor kan word. Die verse kom uit Johan Myburg se nuwe, nog ongepubliseerde bundel, Uittogboek, wat volgende jaar by Protea verskyn. Myburg het in 1984 met Vlugskrif gedebuteer en dit met Kontrafak opgevolg. Kontrafak het in 1995 die Eugène Marais-prys ontvang. Die bundel Kamermusiek – beskryf as 'n “moet-hê vir enige fynproewer se rak” – het in 2008 gevolg.
Die Dingusse kuier vir die naweek op oom Herman se plot, en hier het hulle 'n noue ontkoming...
'n Klankstorie geskryf deur Krisjan Fourie, met Nic de Jager as die voordragkunstenaar en musiek deur Paul Riekert (van Battery 9-faam).
Johan van Lill bring hulde aan die gewilde en omstrede Luxurama-teater in Wynberg in die Kaap.
'n Groep kortverhaalskrywers het in opdrag van RSG Kunstefees 2016 'n storie geskryf rondom die opdrag – “Nee wat, die koek is droog...” Die uiteenlopende verhale is kostelik, speels, humoristies en oorspronklik.
Met Johann Nel & Joanie Combrink. Saamgestel deur Juanita Swanepoel. In Lief-lief deur Afrikaans neem Nel en Combrink die luisteraar op 'n soomlose liefdesreis: van die heel oudste – en stoutste! – liefdesverse in Afrikaans deur die hele spektrum van die liefde tot reg in die sitkamer van die spreekwoordelike Huis Herfsblaar. Daar is interessante afdraaipaadjies langs die pad waar die twee voordragkunstenaars gaan inloer. Met die werk van sowat 28 digters wat Pulvermacher en ou, anonieme digters insluit, is daar verbode liefde, verlore liefde, intellektuele liefde en die sensuele liefde (dink maar net aan wat 'n tango in jou losmaak).
Met Jana Cilliers & Sulette Thompson. Dit is die jaar 2033 en 'n Amerikaner – die dogter van 'n prostituut wat in 'n krotbuurt in Los Angeles gewoon het – word as pous verkies. Egskeiding, geboortebeperking en homoseksualiteit is toelaatbaar en Katolieke priesters mag trou. Daar is geen dogma, doodsondes of gebede nie. Al die Katolieke kerk se geld is onder die armes verdeel... En nou lewer Pous Johanna II haar inhuldigingstoespraak op televisie, al word sy kort-kort deur advertensies onderbreek. Die aktrise Jana Cilliers lewer 'n kragtoer in hierdie omstrede solostuk oor geloof en godsdiens in die moderne wêreld.
Boereverneukery deur die Jood in sy winkel waar kontant gerek moet word om al die nodige aan te skaf. Maar geen vrou wat haar sout werd is, sal sulke skelmstreke toelaat nie. Of sien die Jood dit dalk net uit 'n ander oogpunt?
'n Klankstorie geskryf deur Krisjan Fourie, met Nic de Jager as die voordragkunstenaar en musiek deur Paul Riekert (van Battery 9-faam).
Die Dingusse is baie opgewonde oor hulle nuwe fiets, al weet hulle nie hoe om daarop te ry nie. Breinus gee vir hulle hulle eerste fietsryles...
Met June van Merch & Marcel van Heerden. In die vroeë negentiende eeu is Sarah Baartman van die Gamtoos in die Oos-Kaap in Europa as 'n frats geparadeer. Nou, vir die eerste keer en presies 200 jaar sedert haar dood, word die grense van radiodrama, versprogram en dokumentêr oorgesteek om die ware verhaal van Sarah te vertel, terwyl sy en die man langs die vuur mekaar in die oë kyk... Sarah tree in gesprek met Geskiedenis en die Afrikaanse letterkunde. Verse van wyle Jaco Botha, Antjie Krog asook Diana Ferrus kan gehoor word.
Die Dingusse hoor skokkende nuus, en dan beleef hulle 'n avontuur saam met 'n skaars Amasone-papegaai.
'n Groep kortverhaalskrywers het in opdrag van RSG Kunstefees 2016 'n storie geskryf rondom die opdrag – “Nee wat, die koek is droog...” Die uiteenlopende verhale is kostelik, speels, humoristies en oorspronklik.
'n Klankstorie geskryf deur Krisjan Fourie, met Nic de Jager as die voordragkunstenaar en musiek deur Paul Riekert (van Battery 9-faam).
Soms het die dienaar van die gereg hulp nodig wanneer hy te perd in die ysige koue haastig van Keimoes na Kenhardt moet reis om 'n moordsaak te gaan ondersoek. 'n Dominee ook, wanneer hy die vermoorde se begrafnis moet waarneem. Veral in Namakwaland waar dinge soms anders verloop as in die res van die land...
Johan van Lill en Christelle Webb-Joubert gesels met Collen Maswanganyi oor sy beeldhouwerke van hout.
Saamgestel uit die werk van Audrey Blignault deur Woutrine Theron. Audrey Blignault van Bredasdorp was vir 'n paar geslagte een van Afrikaans se bekendste, gewildste en mees geliefde rubriekskrywers, maar ook 'n radio-omroeper en redakteur van Die Huisvrou. Ter viering van haar 100ste verjaardag vanjaar, het die aktrise Woutrine Theron 'n Oulap se rooi uit haar werke saamgestel. Eben Cruywagen het die teks vir die radio verwerk. Kom reis saam met die skrywer (vertolk deur Theron) deur die strate van haar hartsplek, staan stil by kosbare herinneringe en onthou – saam met ons – hierdie merkwaardige skrywer. Ander stemme sluit in Jannes de Beer, Henry Jacobs, Nina Marais, Martin Headger, Casper Lourens, Hendrik Havenga, Sarien Taylor, Marnus Haasbroek, Christelle van Tonder, Alta Engelbrecht, Sune Senekal, Willem Engelbrecht, Hanno Labuschagne en Jayson Jacobs.
Die Dingusse ry saam met mamma winkel toe in haar kombi-bussie, en dan gebeur daar iets wat almal na hulle asems laat snak!
Christelle Webb-Joubert en Johan Van Lill gesels met Charles Badenhorst oor sy animasiekuns.
'n Klankstorie geskryf deur Krisjan Fourie, met Nic de Jager as die voordragkunstenaar en musiek deur Paul Riekert (van Battery 9-faam).
'n Groep kortverhaalskrywers het in opdrag van RSG Kunstefees 2016 'n storie geskryf rondom die opdrag – “Nee wat, die koek is droog...” Die uiteenlopende verhale is kostelik, speels, humoristies en oorspronklik.
'n Groep kortverhaalskrywers het in opdrag van RSG Kunstefees 2016 'n storie geskryf rondom die opdrag – “Nee wat, die koek is droog...” Die uiteenlopende verhale is kostelik, speels, humoristies en oorspronklik.
'n Klankstorie geskryf deur Krisjan Fourie, met Nic de Jager as die voordragkunstenaar en musiek deur Paul Riekert (van Battery 9-faam).
Die Dingusse is 'n hele gesin rare, snaakse “goeters” wat saamwoon en besonder geheg is aan mekaar. Al probleem is dat nie een hierdie vreemde goetertjies ooit die ander sal kan verlaat nie... Kom beleef 'n rits avonture saam met die Dingusse!
Kan 'n leeu en 'n vark ooit boesemvriende word, soos Dawid en Jonatan van ouds? Of bly 'n leeu maar 'n wilde dier?
Uys Krige se vertaling van William Shakespeare se komedie, Twaalfde nag, is 'n viering van die tydlose dramaturg se heengaan 400 jaar gelede. Die stuk is vanjaar 415 jaar oud en stel hoë eise aan die spelers wat meer as een rol moet vertolk. Die regisseur Bettie Kemp het die stuk spesiaal vir die radio verwerk. Twaalfde nag was die heel eerste vollengte- Shakespeare-drama wat op die BBC-radiostasie uitgesaai is. Die fraaie Viola vermom haarself as 'n jong man, en op die verhoog kan die gehoor dit sien. Vir die radio moet daar nuwe planne beraam word om die belangrike intrige te laat slaag! Met Simon Bruinders, Eloise Cupido, Ducan Johnson, Denver Vraagom, Mari Molefe van Heerden, Esmeralda Bihl, Mortimer Williams, Johny Klein & Bradley Olivier
Die Stellenbosse digter en dramaturg Marius Titus is veral bekend om sy tydlose gedig, “Skryfwerk”. Sy verse is al in onder andere die Groot Verseboek, Poskaarte, Nuwe verset en As die son kom oogknip opgeneem, maar hy publiseer ook verskeie bundels self, soos Oop gemoed. “My bydrae lê op die vlak van menswees, waar ek alledaagse mense, in hul daaglikse lief en leed, hopelik sal vind,” het Titus reeds in 1988 geskryf. Met gedigte soos “Koffiedrink” spreek Titus nou – dekades later – steeds op 'n diep dog vermaaklike vlak tot 'n ieder en elk.
Boereverneukery deur die Jood in sy winkel waar kontant gerek moet word om al die nodige aan te skaf. Maar geen vrou wat haar sout werd is, sal sulke skelmstreke toelaat nie. Of sien die Jood dit dalk net uit 'n ander oogpunt?
Johan van Lill gesels met die kunstenaar Marieke Prinsloo oor haar kunswerke van sement.
'n Spesiale versprogram waarin gedigte oor landskappe, taal en verganklikheid gehoor kan word. Die verse kom uit Johan Myburg se nuwe, nog ongepubliseerde bundel, Uittogboek, wat volgende jaar by Protea verskyn. Myburg het in 1984 met Vlugskrif gedebuteer en dit met Kontrafak opgevolg. Kontrafak het in 1995 die Eugène Marais-prys ontvang. Die bundel Kamermusiek – beskryf as 'n “moet-hê vir enige fynproewer se rak” – het in 2008 gevolg.
Hierdie opdragwerk handel oor die lewe van Beyers Naude, wat in 1993 vir die Nobelprys vir vrede benoem is. Naude het 14 eredoktorsgrade in sy leeftyd ontvang, asook onder meer die Franklin D. Roosevelt Four Freedoms Award in die VSA. Engel met 'n hamer is 'n geskiedkundige drama oor die lewe van die dominee, teoloog en anti-apartheidsaktivis Beyers Naude, ook bekend as oom Bey. Dit is die storie van iemand wat die moed gehad het om te sê: “Tot hiertoe en nie verder nie. Ek mag nie langer stilbly en niks doen nie.” Tussendeur die onstuimige gebeure vertel die bekroonde radiodramaturg Joey van Niekerk 'n aangrypende liefdesverhaal. Bowenal is dit 'n drama oor geloof en hoop. Met Andre Weideman, Cintaine Schutte, Juanita Swanepoel, Johann Nel, Susanne Beyers, Deon Lotz, Johann Stassen, Ronel Geldenhuys en Pieter Cillie.
Sulamiet is die digter en letterkundige Lina Spies se tiende digbundel en word eksklusief tydens die RSG Kunstefees 2016 bekend gestel. Die titel Sulamiet verwys na die vroulike spreker in die Bybelboek Hooglied waarin die verlore tuin van Eden na die sondeval deur die liefde herskep word. Die verse handel oor die liefde in vele vorme, die belewenis van die religieuse, die skoonheid van die natuur asook die kunste waaraan daar altyd 'n tekort is weens menslike ontoereikenheid.
Luister na 'n herhaling van een van die produksies wat tydens RSG Kunstefees 2015 groot aftrek gekry het: Die digters toor met woorde en borduur vrolik voort op verse van onder andere Boerneef en Barend J. Toerien. Hulle moet ook binne vyf minute 'n bekende en klassieke Afrikaanse gedig nuwe lewe gee. Poësie was lanklaas soveel pret en plesier. Met Ilse Salzwedel en digters Diana Ferrus, Andries Bezuidenhout en Philip de Vos, en voorlesings deur Elize Cawood.
Johan van Lill kyk na die jong, nuwe stemme wat die teaterbedryf die afgelope paar jaar op sy kop draai.
Oom Goltros van Verneukpan gaan met sy “kwinksinnigheid” en enigmatiese verbeeldingsvlugte die luisteraars laat lag en kopkrap.
Dit lyk asof Poen alles vergeet het - tot sy woorde! En nou moet daar vinnig 'n nuwe superheld gekies word, anders stuur die konsert op 'n fiasko af!
'n Groep kunstenaars het geskenkbewyse met vyf minute se stilte ontvang. Kom luister hoe die verbeelding op galop gaan en hoe die stilte verdryf word...
Reis sonder einde is 'n dramatiese speurtog van die mens se hunkering na emosionele en geestelike vervulling. Uys Krige verbeeld die brug wat hy tussen twee uiteenlopende kulture ontdek het. Bekoor deur die flamenco-ritmes skilder hy 'n soldaat se eensame tog deur die woestyn en herskep hy in Afrikaans die Spaanse digter Federico Garcia Lorca se klaaglied oor sy gestorwe vriend. Ervaar Krige en Lorca vervleg tussendeur die kitaarmusiek van Paco de Lucia en Ricardo Morego se album, Dos Guitarras Flamencas. Met Elma Potgieter & Schalk Jacobsz.
Die konsert is om die draai en almal oefen dat dit klap. Dan gebeur daar 'n ongeluk wat amper die hele kunstefees bederf.
Een van Afrikaans se mees omstrede skrywers, 'n vernuwer en verskuiwer van literêre grense – wyle Koos Prinsloo – het in 1982 gedebuteer. Andre Kotze het die titelverhaal van “Die Jonksmanskas” as 'n radiodrama verwerk. Dit is 'n uitsonderlike verhaal van konflik – tussen geslagte, gender, etniese groepe en veral die stryd binne een mens. Met Wessel Pretorius, Lida Botha, Martelize Kolver, Leon Kruger, Roeline Daneel, Esther von Waltsleben, Geon Nel & Piet Beyers. Regie: Joanie Combrink
Oom Goltros van Verneukpan gaan met sy “kwinksinnigheid” en enigmatiese verbeeldingsvlugte die luisteraars laat lag en kopkrap.
Die digters toor met woorde en borduur vanjaar vrolik voort op verse van onder andere Boerneef en Barend J. Toerien. Daar is ook kans om 'n gunsteling-gedig te herbesoek. En dan moet hulle binne vyf minute 'n bekende en klassieke, Afrikaanse gedig nuwe lewe gee. Kom luister en lag saam. Poësie was lanklaas soveel pret en plesier. Met Ilse Salzwedel en die digters Diana Ferrus, Andries Bezuidenhout en Philip de Vos, en voorlesings deur Elize Cawood.
'n Paar onaangename goed gebeur met Poen wat hom so 'n bietjie toets, maar die konsert moet voortgaan en die tyd is min!
Oom Goltros van Verneukpan gaan met sy “kwinksinnigheid” en enigmatiese verbeeldingsvlugte die luisteraars laat lag en kopkrap.
Die akteur en dramaturg Christo Davids se splinternuwe radiodrama handel oor 'n egpaar wat besig is om na jare hul huis op te pak. Tussen die foto's en herinneringe deur ontdek hulle iets wat albei se lewens verpletter. Tussen die bokse is 'n verhaal wat die luisteraars meer as net 'n traan sal laat wegpink. Met Duncan Johnson, Fatima Abdool, Donovan Pietersen & Martin Jansen. Regie: Helena Hugo
Oom Goltros van Verneukpan gaan met sy “kwinksinnigheid” en enigmatiese verbeeldingsvlugte die luisteraars laat lag en kopkrap.
'n Groep kunstenaars het geskenkbewyse met vyf minute se stilte ontvang. Kom luister hoe die verbeelding op galop gaan en hoe die stilte verdryf word...
Philip de Vos is alombekend vir sy lustige limerieke en filosofiese rymelary. Hierdie maltrap versprogram is 'n samestelling van die virtuose De Vos se verse in die vorm van 'n moderne sprokie. Maak kennis met 'n vet feë, 'n padda, 'n prins, 'n mielie en 'n kreef op hierdie besonderse liefdesreis. Kostelike vermaak vir die hele gesin.
Dit is 25 jaar na die “wittebrood” en die geliefdes is weer aan tafel... Die veelbekroonde aktrise en regisseur Sylvaine Strike skep 'n radiodrama sonder woorde. Hoor hoe 'n storie met klank en geluide vertel word!
Bennie en Sarie vertel vir Poen en Toekie waarom hulle aarde toe moes kom, en die plonkies lê 'n strawwe oudisie af.
'n Trein vol hoërskoolleerders is op pad na die jaarlikse interskole. Dit is 'n nag vol tradisie, poetse, passie, liefde, hartseer en gevaar. 'n Reis wat hulle almal sal verander en niemand sal vergeet nie... Altesame elf jong akteurs, waarvan die meeste tans nog in die skoolbanke, debuteer in 'n opdrag-jeugdrama uit die pen van die gewilde radioskrywer, Anton Treurnich. Met Patricia Baadjies, Luka Geldenhuys, Du Toit Albertze, Dealan Fredericks, Carla Smith, Jeani Heyns, Lise-Mari van Wyk, Liam Walsh, Luke White, Margo Kotze en Nienke Geldenhuys. Regie: Eben Cruywagen
Met Marius Weyers, ter viering van sy 70ste verjaardag. 'n Sjimpansee wat deur 'n berugte wildvanger aan die Goudkus gevang en per skip na Hamburg geneem is, ontdek een aand tydens 'n partytjie aan boord van die skip – tot groot vermaak en die verstomming van die bemanning – dat hy kan praat nadat hy 'n bottel brandewyn gedrink het. Hierdie deurbraak veroorsaak dat die aap bekend word en Europa deurkruis en voor groot gehore optree. Een van hierdie optredes is 'n verslag aan 'n akademie oor sy nuwe lewe nadat hy sy dierlike aard oorwin het. Soos die meeste van Kafka se kortverhale lewer hierdie stuk kommentaar op die samelewing en medemenslikheid. Marius Weyers was vir die eerste keer in 1979 in die Markteater te sien in die Engelse solostuk, wat in 1986 vir die laaste keer in Los Angeles opgevoer is. Dit is die heel eerste keer dat Weyers dit in Afrikaans en vir radio aanpak. Ook met Petrus du Preez en Marlo Minnaar. Regie: Eben Cruywagen
Die veelbekroonde aktrise en regisseur Sylvaine Strike skep 'n radiodrama sonder woorde. Hoor hoe 'n storie met klank en geluide vertel word!
Oom Goltros van Verneukpan gaan met sy “kwinksinnigheid” en enigmatiese verbeeldingsvlugte die luisteraars laat lag en kopkrap.
Johan van Lill gesels met die aktrises Kitty Albertyn en June Seymour oor hulle lewe en werk.
Ná drie en 'n half jaar kom kuier Poen en Toekie, die twee plonkies van die planeet Wopper, weer op die aarde. Die groot vraag is egter: wat moet hulle hier kom doen?
Dit is reeds meer as vier dekades sedert Hennie Aucamp se eenakter op 'n verhoog in Stellenbosch gedebuteer het. Die veelbekroonde radiodramaregisseur Margot Luyt het die stuk vir die radio verwerk en 'n groep van Suid-Afrika se teaterveterane byeengebring vir 'n roerende opvoering oor die mens se stryd teen tyd. Met Louis van Niekerk, Wilna Snyman, Lida Botha, Kitty Albertyn, June Seymour, Neels Coetzee, Marga van Rooy, Juanita Swanepoel & Deidre Wolhuter. Klavier: Albie van Schalkwyk. Regie: Margot Luyt
Henning Snyman beskryf Hendrik J. Botha, 'n narkotiseur en digter van Pretoria, as 'n “ware vonds vir die Afrikaanse digkuns”. Soos die draad van die lewe, gespan in die hande van Zeus se dogter, Atropos, so verloop hierdie debuut van herinneringsgedigte oor die jeug, deur die mediese beroep tot waar die draad finaal geknip word – gedigte oor sterflikheid en verlies. 'n Versprogram wat eggo met Botha se vernuftige interaksie tussen betekenis en klank. Met Rika Sennett en Richard van der Westhuizen
Hierdie splinternuwe drama uit die pen van die Hertzogpryswenner is vir die Katolieke Adam Small die vervulling van 'n hunkering sedert sy jeugjare om 'n drama oor Maria, die moeder van Jesus, te skryf. Ook om sy Rooms-Katolieke skoling op die Kaapse Vlakte in herinnering te roep en erkentenis aan die Islamitiese invloede in sy lewe vorm te gee. 'n Kontemporêre lydensverhaal met Maria (Leande Valentyn) en Josef (Chris Majiedt) word in 'n makro-drama, soos 'n Uberammergau-spel, nuwe gestalte gegee. Met Deon Lotz, Chris Majiedt, Ivan Abrahams, Marlo Minnaar, De Klerk Oelofse, Leande Valentyn, Hannah Borthwick, Morne Visser, Andre Samuels, Freda van den Heever en Roeline Daneel.
Met die onlangse viering van Afrikaans se 90ste verjaardag is die uitgewer Leon Rousseau gevra om sy lys van die tien beste en invloedrykste boeke van die afgelope nege dekades saam te stel. Rousseau, een van die stigterslede van die uitgewer Human & Rousseau, het wyle Andre P. Brink se Lobola vir die lewe (1962) as die tweede beste Afrikaanse roman tot nog toe bestempel. Lobola vir die lewe handel oor die belewenisse van 'n verbitterde, ontnugterde jong skrywer-joernalis wie se lewe weens tragiese gebeure dreig om in duie te stort. Hulp uit 'n onverwagse oord bring egter hoop en die geleentheid om van voor af te begin. Wyle Andre P. Brink sou in Mei vanjaar 80 jaar oud wees. Met Johann Nel, Anrich Herbst, Deirdre Wolhuter, Ronel Geldenhuys, Piet Beyers, Ivan Abrahams en Pieter Cillie. Die RSG-verwerking van hierdie roman word uitgesaai met die vergunning van die Andre P. Brink Literêre Trust. Regie: Eben Cruywagen.
Twintig jaar van demokrasie – hoe het die kunste die afgelope twee dekades verander? Al dan nie?
Ian Wessels gesels met die regisseur en kunstenaars van die RSG Kunstefees-produksie, DIE AFRIKA IN AFRIKAANS, Janine Neetjhling, Anna Davel, Gloria Bosman en Timothy Moloi.
Antjie Krog eksklusief in gesprek met Susanne Beyers. Krog lees verse uit haar eerste bundel in agt jaar, Mede-wete, en gesels oor ma- en ouma-wees, kos, kreatiwiteit, die grond in elkeen van ons, mede-menslikheid en hoe om woede te verskans.